Lifestyle

Blitsidee met bloubessies

Bloubessies is heerlik rou, maar selfs lekkerder wanneer hulle gaargemaak word

  • Kook 250 ml (1 k) bloubessies, 5 ml (1 t) balsemiekasyn en 15 ml (1 e) water in ’n kastrolletjie tot stroperig.
  • Laat afkoel.
  • Voeg 30 ml (2 e) olyfolie by en geur met ’n tikkie sout en peper.
  • Sit as slaaisous voor saam met soetsuur varkfilet en kruieblaartjies.

Bloubessies se geskiedenis

Die blouswart, plomp bessies het ’n soet geur en effense suur smaak. Hulle is heerlik rou, maar selfs lekkerder wanneer hulle gaargemaak word. Bloubessies word veral in die George-omgewing verbou en Suid-Afrika is een van die grootste produsente in die Suidelike Halfrond.

Koop só

Die vruggies moet ferm en nie gekneus of verrimpel wees nie, en veral nie suur of muwwerig ruik nie. Vermy pakkies met sapperigheid onderin, want dit dui op ’n slegte bessie(s) wat ander kon “aansteek”. Die bessies het ’n natuurlike silwer laag wat hulle teen die son beskerm en aandui dat hulle vars is.

Bêre só

Die bessies kneus maklik, hanteer hulle maar versigtig. Die vruggies bly vir ’n paar dae vars in die yskas, of vries hulle en gebruik later vir souse of gladdejantjies (smoothies).

Gebruik só

Bak in terte of kolwyntjies, meng met jogurt vir ontbytdrankies, of gebruik as kleurryke sous saam met romerige kaaskoek. ’n Gestoofde bloubessiesous is heerlik saam met eend.

Geurpasmaats

Room, suurroom, wildsvleis, lemmetjie, suurlemoen, amandel, sjokolade, kaneel, kruisement.

 

 

Die artikel Blitsidee met bloubessies het eerste in Rooi Rose verskyn.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button