Lifestyle

Smullekker halloumi-en-groente-burger

Met die nuwe gesondheidsneiging om minder vleis te eet, is hierdie groenteburger die perfekte plaasvervanger.

 

Plantgebaseerde kosse is nou groot nuus. Dis goed vir jou om meer veselryke groente te eet en die vleis soms ’n bietjie weg te laat. Hierdie burger is ook sommer laer in fyn, verwerkte koolhidrate.

Bestanddele

  • 500 ml (2 k) gaar beet, geskil en in blokkies gesny
  • 250 ml (1 k) gaar quinoa
  • 15 ml (1 e) olyfolie
  • 1 eier
  • 1 uitjie, geskil en fyngekap
  • 2 knoffelhuisies, geskil en gekneus
  • 30 ml (2 e) keker-ertjiemeel (chickpea flour), te kry by apteke en gesondheidswinkels
  • 15 ml (1 e) vlassaad (flaxseed)
  • 30 ml (2 e) suurlemoensap
  • 5 ml (1 t) sout

Krakerige koolslaai

  1. Sny ’n halwe klein groen kool en ’n halwe klein pers kool in papierdun repies.
  2. Skil en sny 1 wortel in dun repies en meng al die groente in ’n middelslagbakkie.
  3. Meng ’n handjie vol gekapte koljanderblare en die sap van een lemmetjie deur die koolslaai.
  4. Hou eenkant.

Avokadosous

  1. Meng 1 avokado, 125 ml dubbelroomjogurt, 5 ml gekapte knoffel, 1 gekapte jalapeño-rissie en die gerasperde skil en uitgedrukte sap van 1 lemmetjie in die bak van ’n voedselverwerker.
  2. Verwerk tot glad en geur met ’n knypie sout. Hou eenkant in ’n bakkie.

Opdiening

  • 8 ronde skywe halloumikaas. As jy nie ronde halloumi kan kry nie, kan jy die blokke koop en met ’n ringsnyer sirkels van 9 cm daaruit sny.
  • 45 ml olyfolie

Metode

  1. Verhit die oond tot 180 ˚C.
  2. Meng al die bestanddele vir die groenteburger in ’n voedselverwerker tot dit net begin bymekaarkom. Verdeel dit in 4 hopies en maak met jou hande 4 burgerfrikkadelle (maak jou hande effens nat, dis makliker). Pak die frikkadelle op ’n bakplaat en bak vir 10 min. Draai om en bak vir nog 10 min. Haal uit.
  3. Verhit die olie in ’n riffel- of kleefwerende pan en braai die halloumi aan albei kante tot goudkleurig. Dreineer op kombuispapier.

Bou die burgers

  1. Begin met ’n halloumisirkel onder, gevolg deur die groente-frikkadel, dan die koolslaai en laastens ’n lekker groot skep van die avokadosous.
  2. Eindig met nog ’n halloumisirkel en begin smul!

 

Die artikel Smullekker halloumi-en-groente-burger het eerste in Rooi Rose verskyn.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button