17-jarige in hegtenis ná ‘wurgspeletjie’ in Oudtshoorn skeefloop

Polisie het bevestig dat 'n minderjarige in hegtenis geneem is nadat Sherwin Netherlands (13) ernstig beseer is.

‘n 17-jarige seun is Dinsdag in hegtenis geneem in verband met die wurgvoorval waarin die 13-jarige Sherwin Netherlands ernstig seergekry het.

Oudtshoorn Courant berig Sherwin is op 26 Januarie beseer ná ‘n seun hom glo van agter gewurg het. Vriende wat ten tyde van die voorval by was, het aan die seun gesê dat Sherwin se bene lam raak en hy het Sherwin gelos.

Sherwin het vooroor geval en met sy gesig en neus teen ‘n ronde sement boublok geval en toe agteroor waarna hy sy kop agter ook gestamp het. Dokters het ná twee dae uitgevind dat beentjies in Sherwin se neus en sinusholtes gebreek en gekraak het.

Hy het ook inflammasie en koors ontwikkel en is aan die eenkant van sy liggaam verlam. Op die stadium blyk dit dat Sherwin moontlik permanente breinskade het.

Elizabeth Janse, Sherwin se tannie, het gister gesê dat die polisie hulle in kennis gestel het van die seun se arrestasie. Volgens haar moet hy nog in die hof verskyn.

Janse sê Sherwin se voorval het hulle ongelooflik hard getref.

“Ons het in November my een suster aan die dood afgestaan. Ek het Desember ‘n miskraam gehad en Januarie toe gebeur Sherwin se voorval. Ons is al vir amper vier weke hospitaal in en hospitaal uit met hom. Ek en my pa, George Jansen, maak maar beurte om hom by die hospitaal te ondersteun. My pa is regtig ons rots. Hy kyk ook na Sherwin na sy ma se dood.”

Janse sê Sherwin is intussen terug in Oudtshoorn-hospitaal en wag om geopereer te word om die gebreekte beentjies in sy gesig te herstel.

“Hy raak vinnig moeg en slaap baie. Die dokters sê hulle kan eers opereer as hy minder slaap. Hy herken ons en raak opgewonde as hy ons sien. Hy praat net baie moeilik en nie als wat hy sê maak sin nie. Ons kan sien hy probeer hard, dit is maar net hartseer om hom so te sien omdat ons weet watter sprankelende seun hy was.”

Volgens haar kan hulle daagliks verbetering sien en het hy ook al self probeer opstaan. Hy ontvang ook fisio- en spraakterapie.

Janse sê hulle as familie het op die stadium nog nie werklik antwoorde oor hoe lank sy herstel gaan neem nie, maar vermoed dat dit ‘n baie lang pad gaan wees.

“Ons vat dit net dag vir dag.”

Adjudant-Offisier EAR Kapp, die woordvoerder van die Kwanonqaba-polisiestasie, het bevestig dat ‘n minderjarige in hegtenis geneem is.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp Channel.

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button