Sensitive Content

19-jarige in Vaal aangerand: 3 beskuldigdes uit op borgtog

Guillaume Vermeulen (19) vertel oor die gebeure by 'n gewilde kuierplek in die Vaal waar hy deur 'n groep mans aangeval is.

‘n Gesellige aand saam met vriende (sy beste vriend en drie jong dames) by ‘n gewilde kuierplek in die Vaal, het in ‘n nagmerrie-ondervinding vir die 19-jarige Guillaume Vermeulen jr. ontaard.

Die skraal jong man het die aand se gebeure – wat ook op kringtelevisie vasgevang is – met Vaalweekblad gedeel.

Grafiese inhoud waarskuwing: Hierdie berig bevat ‘n foto wat sommige lesers kan ontstel

Skielike konflik op dansvloer

“Ek dink dit het alles begin toe ek en ‘n ander ou mekaar per ongeluk op die dansvloer gestamp en ons drankies gemors het. Ons het net vir mekaar gekyk, maar niks verder het gebeur nie.”

Sowat 20 minute later het hulle mekaar weer by die badkamer raakgeloop, en weer was daar kyke.

“Ek vermoed die ou het ander vriende in die klub gedurende die aand teen my opgesteek, want ‘n groep het voor ons tafel kom staan en ons net aangegluur. My vriend het met hulle gaan praat. Ek het omstreeks 23:30 nader gestap en my vriend gevra dat ons eerder huis toe gaan,” vertel Guillaume.

Aanranding op kringtelevisie vasgevang

Op kringtelevisie kan daar dan gesien word hoe Guillaume en sy vriend begin wegstap, waarna Guillaume skielik hard aan sy hemp geruk word.

Daarna val die houe. Sowat 11 ouens het houe uitgedeel terwyl Guillaume keer. In die proses word sy hemp van sy lyf afgeskeer. Net hy word geslaan, nie sy vriend nie.

Hy is uiteindelik deur ‘n uitgooier (bouncer) uit die klub geneem.

‘Gedink ek gaan nou doodgaan’

Buite het daar egter groter probleme gewag. Die mans het hom agterna gesit.

Die uitgooier het nie ingetree nie. Guillaume het probeer vlug deur tussen die motors in die parkeerarea weg te hardloop, maar hulle het hom bly jag.

“Die houe het nie opgehou nie. Dit was toe dat die ouer man my van agter om die keel beetkry terwyl ek op die grond lê. Ek het my bewussyn begin verloor en het gedink ek gaan nou doodgaan,” sê Guillaume.

Hy is nie seker wie ingetree het nie, maar hy onthou dat een van die meisies saam met wie hy by die klub was, hom gehelp het tot onder ‘n boom.

Sy het haar pa gekontak, wat Guillaume kom haal en hospitaal toe geneem het. Sy beste vriend was egter nêrens te sien nie.

“Ek het gedog my vriend lê iewers dood en was paniekbevange. Maar later by die hospitaal stap my vriend in, sonder ‘n merkie op sy gesig,” vertel Guillaume.

Geen breuke, maar emosionele trauma

Die geluk by die ongeluk is dat Guillaume geen beenbreuke of harsingskudding opgedoen nie. En hoewel sy neus gebloei het, was sy neus ook nie gebreek nie.

Guillaume Vermeulen jr. sit onder ‘n boom ná die aanranding. Foto: Verskaf

Hy het wel erge trauma ervaar en kry tans berading. Dit is nou twee weke later en die kneusplekke en gesigwonde het herstel.

“Ek dink nie ek sal weer by die klub, of enige ander klub gaan kuier nie,” sê Guillaume.

Dit is ook nie net Guillaume wat erge emosionele skade opgedoen het nie, sy pa Guillaume sr. sê hy het skoon siek geword toe hy die video die eerste keer gesien het.

Hy kry steeds slapelose nagte en het besluit om ook vir berading te gaan.

3 in hof, polisie vra hulp

Drie van die mans wat van die aanval beskuldig word is intussen in hegtenis geneem. Hulle is op borgtog vrygelaat en kom 5 Maart wéér voor die hof.

Indien daar enige ooggetuies is wat kan help met die saak, word hulle gevra om Sersant Seaparo by 072 451 0594 te kontak.

  • Die skrywer van die berig en die Vermeulens wat hierin genoem word is nie verwant nie.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Elsje Vermeulen

Elsje Vermeulen is the senior editor of MooiVaal Media and editor of the Vaalweekblad. Well-known for her award-winning photography and heartwarming stories, she always has the readers’ best interests at heart. Email: elsje@mooivaal.co.za
Back to top button