19-jarige aangerand by gewilde kuierplek
WAARSKUWING: GRAFIESE FOTO'S IN BERIG. Hy weet self nie regtig hoekom dinge so handuit geruk het dat hy vir sy lewe moes vrees nie. Hy was deur 'n groep mans wie se ouderdomme van 19 tot 'n volwasse man van in sy dertigs, aangerand.
‘n Gesellige aand saam met vier vriende (sy beste vriend en drie jong dames) by ‘n gewilde plaaslike kuierplek in die Vaal, het in ‘n nagmerrie-ondervinding vir die 19-jarige Guillaume Vermeulen jnr. ontaard.
Die skraal jong man het die aand se gebeure (wat ook op kringtelevisie vasgevang is) met Vaalweekblad gedeel.
“Ek dink dit het alles begin toe ek en ‘n ander ou mekaar per ongeluk op die dansvloer gestamp en ons drankies gemors het. Ons het net vir mekaar gekyk, maar niks verder het gebeur nie”.
Sowat 20 minute later het hulle mekaar weer by die badkamer raakgeloop, en weer was daar kyke.
“Ek vermoed die ou het ander vriende in die klub gedurende die aand teen my opgesteek, want ‘n groep het voor ons tafel kom staan en ons net aangegluur. My vriend het met hulle gaan praat. Ek het omstreeks 23:30 nader gestap en my vriend gevra dat ons eerder huistoe gaan,” vertel Guillaume.
Op kringtelevisie kan daar dan gesien word hoe Guillaume en sy vriend begin wegstap, waarna Guillaume skielik hard aan sy hemp geruk word.
Daarna val die houe. Sowat 11 ouens het houe uitgedeel terwyl Guillaume keer. In die proses word sy hemp van sy lyf afgeskeer. Net hy word geslaan, nie sy vriend nie.
Hy is uiteindelik deur ‘n uitgooier (bouncer) uit die klub geneem.
Buite het daar egter groter probleme gewag. Die mans het hom agterna gesit.
Die uitgooier het nie ingetree nie. Guillaume het probeer vlug deur tussen die motors in die parkeerarea weg te hardloop, maar hulle het hom bly jag.
“Die houe het nie opgehou nie. Dit was toe dat die ouer man my van agter om die keel beetgekry terwyl ek op die grond lê. Ek het my bewussyn begin verloor en het gedink ek gaan nou doodgaan,” sê Guillaume.
Hy is nie seker wie ingetree het nie, maar hy onthou dat een van die meisies saam met wie hy by die klub was, hom gehelp het tot onder ‘n boom.
Sy beste vriend was egter nêrens te sien nie.
Sy het haar pa gekontak, wat Guillaume kom haal en hospitaal toe geneem het.
“Ek het gedog my vriend lê iewers dood en was paniekbevange. Maar later by die hospitaal stap my vriend in, sonder ‘n merkie op sy gesig,” vertel Guillaume.
Die geluk by die ongeluk is dat Guillaume geen beenbreuke of harsingskudding opgedoen nie. En hoewel sy neus gebloei het, was sy neus ook nie gebreek nie.

Hy het wel erge trauma ervaar en kry tans berading. Dit is nou twee weke later en die kneusplekke en gesigwonde het herstel.
“Ek dink nie ek sal weer by die klub, of enige ander klub gaan kuier nie,” sê Guillaume.
Dit is ook nie net Guillaume wat erge emosionele skade opgedoen het nie, sy pa Guillaume snr. sê hy het skoon siek geword toe hy die video die eerste keer gesien het, en kry steeds slapelose nagte.
Hy het besluit om ook vir berading te gaan.
Drie van die aanvallers is intussen gearresteer, maar is uit op borgtog. Hulle kom 5 Maart voor die hof.
Indien daar enige ooggetuies is wat kan help met die saak, word hulle gevra om Sersant Seaparo by 072 451 0594 te kontak.
* Die skrywer van die berig en die Guillaume Vermeulen is nie verwant nie.

