3 sterftes vestig aandag op breinvliesontsteking

Kommer oor voorkoming en entstofbeskikbaarheid neem toe nadat drie jong mense binne weke aan breinvliesontsteking gesterf het.

Drie jong Suid-Afrikaners, onder wie twee skoolseuns en ‘n universiteitstudent, is binne enkele weke dood aan breinvliesontsteking.

Die sterftes vestig nuwe aandag op ‘n ernstige siekte wat vinnig lewensgevaarlik kan word, terwyl vrae oor voorkoming, entstofbeskikbaarheid en vroeë diagnose ontstaan.

Aidan Westraad (8), ‘n graad 2-leerder aan Laerskool Laurus op Oudtshoorn, is verlede Sondag (1 November) aan bevestigde meningokokkale breinvliesontsteking oorlede nadat sy toestand vinnig versleg het.

Fransie van den Bergh (13), ‘n jong Valke-rugbyspeler van Springs, is op Donderdag (5 November) in die Glenwood-hospitaal in Benoni oorlede ná ‘n stryd teen breinvliesontsteking. Aanvanklike mediese toetse het op breinvliesontsteking gedui wat met ‘n ernstige sinusinfeksie verband gehou het, het die Springs Advertiser berig.

Intussen het die dood van Vuyiswa Fransman (20), ‘n onderwysstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus, die universiteitsgemeenskap geruk. Sy is op 22 Oktober oorlede, het die Potchefstroom Herald berig.

Die NWU het bevestig dat die spesifieke vorm van meningitis waaraan Fransman gesterf het nie aansteeklik was nie en geen risiko vir verdere verspreiding ingehou het nie. Die universiteit het studente aangemoedig om kalm te bly en het hulle na die beskikbare beradingsdienste verwys.

NWU vereis inenting teen meningitis

Die NWU se gepubliseerde registrasievereistes bevat ‘n interessante bepaling oor studente-inenting.

Volgens die universiteit moet elke student wat by die NWU registreer, bewys van inenting teen meningitis en masels, pampoentjies en Duitse masels indien. Dié vereiste geld nie net vir internasionale studente nie, maar ook vir Suid-Afrikaanse burgers.

Die universiteit se inligting bepaal verder dat meningitis-inenting elke vyf jaar herhaal moet word. Dit geld ook vir studente wat deur afstandsonderrig studeer en in Suid-Afrika woon.

Die vereiste is veral relevant in die lig van die risiko van meningokokkale siekte in omgewings waar studente in noue kontak met mekaar woon en studeer, soos koshuise en gemeenskaplike ontspanningsruimtes.

Die NWU se institusionele reëls oor student-inentings, wat in Desember 2021 deur die universiteitsraad goedgekeur is, bepaal dat die universiteit toepaslike inentingsvereistes en gesondheidsmaatreëls moet ontwikkel volgens die risiko van ‘n uitbreking of epidemie. Die dokument se aangeduide hersieningsdatum was verlede maand.

65 gevalle in die eerste helfte van 2026

Volgens die jongste beskikbare kwartaallikse verslag van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (NICD) is 65 gevalle van indringende meningokokkale siekte tussen 1 Januarie en 30 Junie aangeteken.

Die verslag toon dat serogroep B steeds die algemeenste meningokokkale groep is, gevolg deur serogroepe W en Y. Die aantal gevalle van serogroep B was hoër as gedurende dieselfde tydperk in vorige jare, hoewel die NICD waarsku dat die relatief klein getalle versigtig geïnterpreteer moet word.

Die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement het vroeër vanjaar ook 11 bevestigde gevalle, waaronder een sterfte, tussen 1 Januarie en 22 Februarie aangemeld. Die departement het destyds beklemtoon dat die gevalle verspreid was en nie op ‘n uitbreking gedui het nie.

Entstowwe bied beskerming teen sekere groepe

Meningitis, oftewel breinvliesontsteking, is ‘n ontsteking van die membrane wat die brein en rugmurg omring. Dit kan deur verskillende bakterieë, virusse en ander oorsake veroorsaak word.

Meningokokkale siekte word deur die bakterie Neisseria meningitidis veroorsaak. Dit kan tot breinvliesontsteking of sepsis, ‘n ernstige bloedstroominfeksie, lei.

‘n Nuwe entstofopsie is in Augustus in Suid-Afrika beskikbaar gestel. Dit bied beskerming teen vier meningokokkale groepe, naamlik A, C, W en Y, en kan aan kinders vanaf 12 maande, tieners en volwassenes toegedien word.

Die entstof beskerm egter nie teen alle moontlike oorsake van breinvliesontsteking nie, het die George Herald berig.

Vroeë herkenning kan lewens red

Een van die grootste uitdagings met meningokokkale siekte is dat die aanvanklike simptome soos dié van ‘n gewone virusinfeksie kan lyk.

Dit sluit koors, erge hoofpyn, naarheid, braking en ‘n stywe nek in. Sensitiwiteit vir lig, verwarring en ongewone slaperigheid kan ook voorkom.

By babas en jong kinders kan die tekens minder duidelik wees. Hulle kan swak drink, aanhoudend huil, buitengewoon slaperig wees of moeilik wakker word.

‘n Donkerrooi of pers uitslag wat nie verbleik wanneer daarop gedruk word nie, kan ook voorkom, maar nie alle pasiënte ontwikkel ‘n uitslag nie.

Meningokokkale siekte kan deur noue kontak met asemhalings- en keelsekresies versprei. Mense wat noue kontak met iemand met bevestigde meningokokkale siekte gehad het, kan voorkomende antibiotika benodig. Gesondheidsowerhede bepaal wie behandeling moet ontvang.

Die NICD en gesondheidsowerhede waarsku dat vermoedelike bakteriële breinvliesontsteking ‘n mediese noodgeval is en dat behandeling nie uitgestel moet word terwyl daar op al die simptome gewag word nie.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Thelma Koorts, Liezl van Niekerk

This article is compiled by journalists from Caxton.
Back to top button