4 dood, 1 vermis na vissersboot op rotse beland in Wes Kaap

Die kaptein is in die vlak water naby die boot gevind en nog ’n man is van die wrak af gered.

Twee vissermanne is beseer terwyl vier dood en een steeds soek is nadat ‘n vissersboot gisteroggend op die rotse geloop het naby Gouritsmond in die Wes Kaap.

Volgens Stasie 15 van die Nasionale Seereddinginstituut (NSRI) op Mosselbaai, is ‘n noodsein vanoggend om 01:50 deur die Telkom Maritieme Radiodiens van die Dijaanda vissersboot ontvang.

Die ‘mayday’ noodroep van ‘n hoë frekwensie (VHF) radio kon nie die presiese ligging van die boot bepaal nie behalwe dat dit in die Gouritsmond area in nood verkeer.

Twee ander vissersbote in dieselfde omgewing het die noodroep gedeeltelik gehoor en dadelik met ‘n soektog begin.

Stasie 15 en Mosselbaai-brandweer se nooddienste is ontplooi en ‘n soektog langs die kuslyn is van stapel gestuur. Gourits se Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) het die NSRI bygestaan in die soektog.

Ongeveer 5km wes van Gouritsmond het die reddingspan van die NSRI op die boot afgekom waar dit op die rotse geloop het.

Die skipper is in die vlak water gevind en hy het die NSRI meegedeel dat daar ses ander mans op die boot was.

Een van die bemanning is deur die NSRI van die boot gered, maar met die verdere soektog is die liggame van nog vier bemanningslede gevind.

Mossel Bay Advertiser het reeds die name van die skipper en twee van die oorledenes, maar dit is nog nie deur die polisie bevestig en vrygestel nie.

Die oorlewendes is op die toneel vir hipoterme behandel en na ’n  hospitaal vervoer vir verdere behandeling.

Verskeie ander nooddienste het ook by die soektog aangesluit, wat die Skymed helikopter insluit.

Die soektog na die laaste en vermiste bemanningslid is vanoggend weer hervat.

Read original story on www.mosselbayadvertiser.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button