5 vas ná plaasaanval op bejaarde egpaar in Brits

'n Gesamentlike poging deur verskeie sekerheidsgroepe het gelei tot die arrestasie van die groep rowers, maar een man is steeds soek.

“Toe hulle ons badkamer toe vat het ek gedink dit is nou die laaste. Ons sal mekaar maar groet…”

Só het die 83-jarige Simon van der Merwe van Mamogalieskraal by Brits vertel na hy en sy vrou, Thelma (82), Dinsdagmiddag deur ses gewapende rowers op hulle plaas oorval is.

“Hulle het ons beveel om in die bad te klim en ons het maar op die bankie in die bad gesit en wag.”

Ses mans het 16:30 by die hek opgedaag en gesê hulle kom ‘n pakkie aflewer. Hulle het die hek se afstandbeheertoestel gewelddadig deur die palissade uit van der Merwe se hand geruk en die hek oopgemaak.

“Hulle is met my die huis in en het my en my vrou op die bank neergesmyt. En toe begin hulle vra vir geld en wapens. Hulle was met niks tevrede wat ek sê nie en vreeslik aggressief. Hulle het gedreig hulle gaan my oopsny met die mes. Hulle het my geslaan en toe my vrou hulle vra om ons nie seer te maak nie, toe slaan hulle haar ook. Ons is deurentyd met vuurwapens teen die kop gedreig.”

Van der Merwe het die kluis vir hulle oopgemaak en hulle het nog ‘n klein kluis gevind waar niks in was nie. Die rowers het die huis geplunder en hulself aan drank en eetgoed gehelp.

“Hulle het gevra vir my motorsleutels en of daar ‘n opsporingtoestel in is. Ek het gesê daar is, en gedink dit sal hulle afskrik, maar hulle het my beveel om dit te deaktiveer. Ek het gesê ek kan dit nie doen nie en dit is nou na-ure, die maatskappy sal nie antwoord nie.”

Die egpaar is na die badkamer gedwing en gewaarsku dat hulle doodgeskiet sou word as hulle uitkom. “Ons het maar gewag. Ons het nie geweet of ons dit gaan oorleef nie. Na ‘n ruk het dit stil geword en ek het uitgeloop en gesien hulle is met my motor weg.”

Gesteelde goedere

Die rowers het met hul goedere soos televisiestelle, kragopwekker, vuurwapens en huishoudelike toerusting in die egpaar se Toyota Prado gevlug.

Met behulp van Rentrack-voertuigopsporingsmaatskappy is die ligging van die voertuig opgespoor en Brits-polisie, Protego Sekuriteit en Tshenolo PI Sekuriteit het die voertuig agternagesit. Polisie in Gauteng, sowel as Afriforum-buurtwaglede in Pretoria, het by die soektog aangesluit en die Prado is ongeveer 17:30 in die Pretoria-Wes-omgewing aangekeer.

“Die rowers het op die polisie losgebrand en na ‘n skietgeveg is vier van die rowers in hegtenis geneem,” het polisiewoordvoerder Konstabel Ben Moabi gesê. Nog ‘n verdagte is Woensdagoggend vasgetrek.

Van die egpaar se besittings is saam met die voertuig teruggevind.

Read original story on kormorant.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button