90 jaar vir Mosselbaai-ma se kêrel wat kinders verkrag

Die hof het vandeesweek gehoor dat die verkragslagoffers bang was 'mamma kry seer' en aanvanklik stilgebly het oor die dade.

“Die mense en wêreld is wreed. Ek is stukkend oor mense se opinies, mense wat niks weet óf verstaan hoe ‘n pedofiel te werk gaan nie.”

Só het die ma van twee seuns van Hartenbos die afgelope week gesê nadat sosiale media verbruikers kritiek teenoor haar gelewer het omdat sy nie bewus was van wat met haar seuns gebeur het nie.

Die Mossel Bay Advertiser het berig oor haar twee kinders, wat oor ‘n tydperk van vyf jaar, bykans daagliks deur haar 46-jarige vriend verkrag en seksueel aangerand is.

Die ma het eers in 2019 van die voorval bewus geword en dadelik ‘n saak by die plaaslike polisie aanhangig gemaak.

Getuienis wat in die Oudtshoorn-streekhof gelewer is, het daarop gedui dat die seuns, toe 10- en 11-jaar-oud, oor die misdrywe stilgebly het omdat hulle onder andere gedreig is.

Die seuns wou ook nie hê hulle ‘mamma moet seerkry nie’.

Die beskuldigde, wat in ‘n stadium daarop aangedring het dat hulle hom ‘pappa’ moes noem, het ook by geleentheid die een seun se mond toegedruk. Dit is slegs van die skokkende getuienis wat in die hof aangehoor is tydens die verhoor van die beskuldigde, wat deurgaans volgehou het hy is onskuldig.

Die man se identiteit is aan die Mossel Bay Advertiser bekend, maar word weerhou om die identiteite van die seuns, wat nou tieners is, te beskerm.

Die verkragtings en seksuele aanrandings het tussen 2014 en 2019 by die seuns se huis in Mosselbaai óf by die beskuldigde se huis op Hartenbos plaasgevind. Dit het dikwels gebeur wanneer die kinders alleen in sy teenwoordigheid was.

Dade aangemeld

Die seuns het getuig dat die beskuldigde hulle dikwels wakker gemaak het om verskeie dade met hulle te pleeg en ook dikwels een van hulle voor die ander verkrag of seksueel aangerand het. Hulle moes hulle klere uittrek en saam met hom in die bed lê.

Die beskuldigde het ook vir die een seun gesê hy is sy ‘gunsteling’ en dat dit die rede is hoekom hy meer gereeld met hom, as met sy boetie, die dade gepleeg het.

Die voorval het op die lappe gekom toe die ma een van die seuns in sy kamer gekonfronteer het nadat sy pornografie op sy selfoon gekry het. Die seun het vir haar gesê dat dit (die pornografie) was wat die beskuldigde gereeld aan hom en sy boetie gedoen het.

Die seuns se ma het ‘n saak by die polisie aanhangig gemaak en die ondersoekbeampte in die saak, Adjudant-Offisier Alistair Rezant, het die beskuldigde op 23 Oktober 2019 op Hartenbos in hegtenis geneem.

Die beskuldigde is verlede week tot altesame 90-jaar gevangenisstraf gevonnis, waarvan hy vir 70-jaar effektiewe tronkstraf ontvang het. Dit is een van die swaarste vonnisse nóg op die kerfstok van die Mosselbaai-polisie se eenheid vir Gesinsgeweld, Kinderbeskerming en Seksuele Misdrywe.

Vonnis

Die beskuldigde sal minstens 35-jaar tronkstraf moet uitdien voor hy vir parool in aanmerking sal kom.

Hy het sy vonnis emosieloos aangehoor.

Die ma van die slagoffers het in ‘n slagoffer-impakstudie gesê dat haar en die seuns se vertroue in die samelewing geknou is en dat sy hom nooit sal kan vergewe vir die bose dade wat hy met haar kinders gepleeg het nie.

Read original story on www.mosselbayadvertiser.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button