Afrikaanse sanger debuteer met ‘roman vir middeljarige vroue’
Die hoofkarakter in Tobi Jooste se roman Babs gaan Bali toe is 'n middeljarige vrou met wie baie Suid-Afrikaners sal vereenselwig.
Eers het Afrikaanse lesers vir Hans van Kraaienberg uit Rudie van Rensburg se romans gehad – wie se oumanstreke sy dogter soms grys hare besorg het – nou het ons vir Babs van Tonder wat in haar middeljare op ’n selfontdekkingsreis na Bali gaan.
Die Johannesburgse sanger Tobi Jooste het sowat twee weke gelede gedebuteer met sy roman, Babs gaan Bali toe, wat ’n unieke reiservaring na ’n eksotiese eiland met sy eiesoortige kulture bied. Daarbenewens beskryf dit die spirituele groei van ’n vrou wat vasgevang is in haar beklemmende huwelik en dag-tot-dag Karoobestaan.
Met dié roman begeef Jooste hom in ’n silwerjaregenre waar die hoofkarakters nie meer energieke jong vroue is nie, maar vroue wat reeds ’n lewenspad gestap het. Hulle middellywe raak groter en die wêreld waarbinne hulle leef kleiner.
Volgens Jooste, wat self aan die middeljare raak, gee vroue dikwels hul eie identiteit prys terwyl hulle vir almal rondom hulle sorg, en as die huis dan stil raak, wonder hulle skielik wie hulle sonder al daardie rolle is.
“Die belangrikste les uit Babs se reis is dat jy nie noodwendig na Bali of enige ander ver plek hoef te reis om jouself te vind nie. Soms is die antwoorde en die verandering waarna jy soek reg voor jou neus.
“Dit verg nie altyd ’n vliegtuigkaartjie nie, maar wel daardie eerste dapper stap en die bewuste keuse om te sê: ‘Ek is gereed vir ’n verandering.’ Soms sit die grootste avontuur net daarin om jou eie ingesteldheid tuis te verander.”

Jooste besoek die Indonesiese eiland in Suidoos-Asië gereeld en hy beskou dié eiland as die perfekte milieu vir Babs se ‘vind-haar-self-oomblik’.
“Die eiland is vir baie mense ’n sensoriese oorlading en ’n totale kulturele skok. Dit is waarom dit vir ’n beheersugtige karakter soos Babs terselfdertyd ’n nagmerrie én droom is.
“Dit is ’n eiland waar jy eenvoudig nie alles kan beplan of beheer nie. Die verkeer is chaoties, die geure en kleure is oorweldigend, die hitte is tasbaar, en die spiritualiteit hang dik in die lug.”
Eiland-mense het ’n unieke manier van leef
Jooste sê wat vir hom die meeste van Bali bybly en sy perspektief op die lewe verander het, is die eiland se unieke manier van leef. Die alledaagse rituele en die diep, natuurlike spiritualiteit wat in elke handeling ingeweef is, is veral kenmerke van die Balinese mense wat vir hom uitstaan.
“In Bali sien jy oral op die stoepe en by winkels hierdie klein handgemaakte offermandjies (canang sari) met blommetjies en wierook wat mense deur die dag neerlê. Ek het agtergekom dat godsdiens nie ’n groot, plegtige Sondag-ding soos by ons is nie; dit is ’n konstante, daaglikse praktyk van dankbaarheid, van stilstaan, en van bewus wees van die oomblik. In ons geloof vra ons. Hulle gee. Al is dit ’n handjievol rys. En die mense is arm, maar glimlag altyd.”
Babs is ’n argetipe karakter
Babs is in baie opsigte ’n argetipe van baie Suid-Afrikaanse vroue, vertel Jooste.
Sy is herkenbaar: Prakties, ’n effense beheervraat, soms ongemaklik met die onbekende en beslis nie iemand wat sommer haar gemaksone verlaat nie.
Jooste sê Babs se persoonlikheid is beslis nie op sy eie gegrond nie.
“Waar Babs ’n praktiese beheervraat is wat bang is vir reis en verkies om in haar gemaksone te bly, is ek die een wat byvoorbeeld met een van my reise na Bali, letterlik die oggend opgestaan het, ‘n rugsak gepak het met ’n tandeborsel, tandepasta, ’n onderbroek en T-hemp en ’n kaartjie bespreek het. Vier dae later was ek in Bali.’’
Avonture in Bali
Jooste het al net soos Babs baie avonture in Bali beleef.
“O jinne, ja! As jy op ’n vliegtuig spring sonder om te kyk waar jy land, is ’n mens se kanse op ’n avontuur natuurlik goed. Ek en my sielsuster was op pad Bali toe, en ons het deur Perth, Australië gevlieg.
“Ons was so doodmoeg van die vlug dat ons nie die tekens behoorlik gelees het nie, en per ongeluk oor die kwarantynlyn gestap het. Dán het jy ’n visum nodig. Wat ons nie gehad het nie. Die oomblik toe ons oor daardie lyn trap, was dit ’n misdaad. Polisie het ons dadelik weggevat.
“Op ’n stadium, toe ek benoud vra wat is die volgende wat kan gebeur, kyk een van die amptenare my doodernstig aan en sê: ‘Don’t worry, there’s Fox TV in jail.’’’
Jooste vertel dat ’n vrou van die Suid-Afrikaanse ambassade uiteindelik opgedaag het om hulle te help. Maar die enigste manier waarop sy hulle kon uitkry sonder visums, was deur ons op die bagasiekarrousel te ‘smokkel’.
“Sy het ’n deurtjie oopgemaak waar hulle die tassies deur laai, en ons moes letterlik deur die bagasieluik inkruip en uitglip sonder dat ons paspoorte gestempel is. Ons het dus tegnies onwettig deur Australië gereis op pad Bali toe. Dit is ’n dag wat ek nooit, nooit sal vergeet nie.”
Jooste het reeds drie nie-fiksie boeke op sy kerfstok en verkies dié tipe kreatiewe skryfwerk bo die van lirieke.
“Ek hou nie daarvan om liedjies te skryf nie. Ek verkies stories. In drie minute kan jy net soveel vertel. In ‘n verhaal kan jy karakters bou, in diepte gaan en mense kan hul eie prentjies in hul koppe skep. ‘n Liedjie se genre kan jou afsit, maar jy vind altyd jouself, êrens in ’n karakter of plek in ’n boek.’’

‘n Paar gelukkige lesers van sy boek gaan die geleentheid kry om volgende jaar saam met Jooste na Bali te reis. “Ek gaan volgende jaar ’n paar vroue – middeljarig, natuurlik,” lag hy, “saamneem Bali toe.”
Die boek word deur Naledi Uitgewers uitgegee en is beskikbaar op hul webwerf en by uitgesoekte boekhandelaars.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za