Albertina kindermoord: Beskuldigde ontken skuld

Twee dogtertjies, onderskeidelik nege en 10 jaar oud, se liggame is in Timothy Ova se huis gekry.

Hy het hulle nié vermoor nie. Só het die 54-jarige Timothy Ova volgehou gedurende sy getuienis in die rondgaande hooggeregshof in George toe hy self onlangs agter die getuiebank ingeskuif het.

Ova word daarvan beskuldig dat hy twee klein dogtertjies, Jacorene Vaaltyn (9) en Sharron Arries (10) in September verlede jaar in sy huis in Janfiskaalstraat, Albertinia, vermoor het.

Volgens die forensiese patoloog se getuienis, wat vroeër gehoor is, het beide dogtertjies versmoor. Tydens die nadoodse ondersoek is daar fyn sand in hul lugweë, neuse en monde gevind wat daarop dui dat die kinders die sand ingeasem het.

Ova het onskuldig gepleit op al vyf die aanklagte waaronder die moord van die kinders.

Die kinders se lyke is op Donderdag 22 September 2022 in Ova se huis gevind ná hulle die vorige dag as vermis aangemeld is. Jacorene se liggaam is in ’n gat onder Ova se bed gevind en Sharon se liggaam in ‘n blou plastiekdrom. Albei was in lakens toegebind.

Beskuldigde getuig

Volgens Ova bly hy reeds vier jaar lank in Albertinia en het hy weens die toename in misdaad, besluit om ‘n bestaande gat onder sy sinkhut as ‘n lokval vir misdadigers in te rig.

‘n Gedeelte van Ova se sinkhut, wat aan die hoofhuis op die erf vas is, is glo oor ‘n gat gebou en weens verskeie inbrake het hy besluit om die gat met sandsakke en ‘n houtpalet as ‘n lokval in te rig. Sou iemand daarop trap sou dit inmekaarval.

Ova het in sy getuienis gesê die gat sou vir riooldoeleindes gebruik word omdat hy nie toegang tot ‘n badkamer gehad het nie. Toe hy later aanbouings aan sy sinkhut aangebring het, moes hy egter ‘n gedeelte daarvan bo-oor die gat bou.

Die gat was toe in die slaapkamer gedeelte van sy woning. Volgens hom het hy niks gehad om dit mee op te vul nie en het besluit om die gat oop te los.

Ova het in sy getuienis gesê dat hy die gat met ‘n houtpalet toegemaak het wat met vier sandsakke aan elke kant in plek gehou is. Die sakke wat hy gebruik het was ou voersakke met sand gevul wat sowat 55 kg elk geweeg het.

Die lokval was glo só gestel dat as iemand in die middel van die palet, wat plek-plek losgemaak was, sou trap, die hele storie inmekaar sou sak en die vermeende inbreker vasgevang sou word.

Hy het in sy getuienis genoem dat die lokval bedoel was vir volwassenes en nie kinders nie, maar hy kon nie sê of dit effektief sou wees nie, want hy het nog nooit vantevore iemand daarin gevang nie.

Die eerste mense het omstreeks 20:00 die Woensdag wat die kinders vermis geraak het, vir Ova by sy huis gevra of hy die kinders gesien het. Volgens hom het hy hulle die middag ná werk in die straat sien speel, maar nie weer daarna nie.

Ova het getuig dat hy die Donderdag-oggend opgestaan het om te gaan werk, maar dat hy baie moeg was omdat hy vir 16 dae aaneen gewerk het en toe besluit het om nie te gaan werk nie.

Hy het vir sy buurvrou, wat saam met hom by die Garden Route Game Lodge gewerk het, gesê hy gaan nie vir die volgende paar dae by die werk wees nie, want hy moes ‘n begrafnis in die Kaap bywoon. Ova het tydens sy getuienis erken dat dit ‘n leuen was en dat hy eenvoudig net nie werk toe wou gaan nie.

Die Donderdag was daar talle mense, insluitende plaaslike polisielede, by Ova se huis wat hom oor die kinders uitgevra het. Hy het volgehou dat hy nie geweet het waar hulle was nie.

Volgens Ova was hy Donderdagmiddag by sy broer. Toe hy terugkeer het hy gesien die lokval het inmekaargesak. Hy het in die gat geklim en die sandsakke en palet begin verwyder toe hy glo iets sien wat soos ‘n elmboog lyk.

Dit was glo Jacorene se liggaam. Volgens hom het hy op Sharon se liggaam afgekom terwyl hy besig was om Jacorene s’n uit die gat te haal. Hy het paniekerig geraak en die kinders op sy bed gesit en ‘n laken oor hulle getrek.

Hy sê hy het in daardie stadium nie ‘n selfoon gehad nie, en was bang dat die gemeenskap gewelddadig sou raak indien hy hulle in kennis sou stel van sy bevinding.

Hy het daarna die kinders elk in hul eie laken toegebind en hulle glo probeer versteek toe hy ‘n woedende Brandon September, Sharon se pa, op sy woning sien afstorm. Hy het glo in die gat probeer wegkruip.

Volgens September moes hulle ‘n slot aan die buitekant van Ova se sinkhut se deur afbreek en die deur oop skop om toegang tot die hut te verkry.

Ova is glo deur Sharon se pa gekonfronteer waarna hy uit die hut gevlug het deur dieselfde gat waarin Jacorene se liggaam gevind is.

Sharon se liggaam is daarna in ’n drom ontdek en die polisie is ontbied. Ova is die volgende dag, Vrydag 23 September, in Albertinia in hegtenis geneem.

Die saak dien voor regter Matthew Francis. Ova word deur advokaat Flip Theron verteen-woordig en advokaat Lenro Badenhorst is vir die staat.

Die ondersoekbeampte in die saak is a.o. Alistair Rezant van die Mosselbaai se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele misdrywe.

Read original story on www.georgeherald.com

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button