‘As ons net één kind kan red’: Middelburg-gesin pleit vir veiliger strate ná dood van 7-jarige
Die ouers van die sewejarige Janeke Brink, wat in Middelburg deur ’n trok doodgery is, doen ‘n beroep op die plaaslike gemeenskap om saam met hulle te veg vir veiliger paaie vir kinders.
Janeke Brink, die sewejarige dogtertjie wat Dinsdag in Middelburg dood is toe ‘n trok haar op haar fiets getref het, se pa Jacques en ma Janeke het hul harte oopgemaak, en gesmeek dat die plaaslike gemeenskap hulle ondersteun in hul soeke na veiliger strate vir dié dorp se kinders.
Jacques sê dat daar deur die dorp verandering moet kom, om swaarvoertuie van die dorpspaaie, en veral in woongebiede, af te hou, berig Middelburg Observer.
“Ons begin in Meyerstraat waar my meisiekind dood is, en vandaar eet ons die olifant happie vir happie,” het ‘n gebroke Jacques gesê.
“As ons net een ander kind kan red, is dit reeds ‘n oorwinning” sê Jacques.

Janeke se begrafnisdiens vind eerskomende Woensdag om 11:00 vanuit die PPK Lofdal-gemeente in SADC-straat plaas.
Jacques bedank die gemeenskap vir die ongelooflike ondersteuning, en sê dat hy nou vir ander ouers en hul kinders gaan baklei, om nie dieselfde tragedie wat hulle getref het, deur te wroeg nie.
Hy het emosioneel vertel dat die gesin self Janeke se blomme vir haar kiskrans gaan voorsien.
Die varkore, Janeke se gunsteling-blomme, sal uit Janeke se eie tuintjie tuis gepluk word. Hy sê varkore verwelk in die winter, maar dat Janeke s’n blom.
Jacques het versoek dat sy seuns, onderskeidelik nege en tien jaar oud, se name nie gepubliseer word nie.
Beide seuns wat die ongeluk gesien gebeur het, sal langtermyn-terapie benodig, en word tans bygestaan deur Pastoor Callie Joubert wat ook die begrafnisdiens sal lei.
Weens die ongekende openbare reaksie op die tragedie, sê Jacques dat inwoners welkom is by die begrafnisdiens, maar nie by die graf nie. Net familie en nabye familievriende sal by die graf toegelaat word.

Die dorp se harte en hande is oop vir die gesin, en inwoners wil weet waar donasies gemaak kan word, of skenkings afgegee kan word.
Herklaas Taljaard staan tans die gesin by op hul versoek, en donasies en skenkings word alleenlik deur hom hanteer, en inwoners word gevra om hom alleenlik te kontak vir verdere inligting.
Taljaard kan gekontak word by 078 773 2186.
Jacques sê Sanral moet spoedwalle oprig in Meyerstraat, om só die trokke te dwing om nie voet in die hoek te sit voor verkeersligte nie.
Daar word veral tussen verkeersligte in Meyerstraat versnel, en daar word gereeld gesien, deur Middelburg Observer se joernaliste self, hoe trokke oor oranje, en selfs rooi verkeersligte jaag, omdat hulle nie kan spoed verminder as verkeersligte oorslaan nie.
Jacques het dit ook duidelik gemaak dat, hoewel die trokke ‘n nagmerrie is, motoriste oor die algemeen ook die verkeersreëls verontagsaam. Hy sê spoedhobbels sal hulle ook in toom hou.

Die familie het ook intussen ‘n regstelling gemaak met Janeke se naam, wat sy met haar hartgebroke ma deel, nadat ‘n vroeëre huldeblyk haar as Jannika geïdentifiseer het. Alle berigte is intussen aangepas met dié regstelling.
“Ons kan net nederig dankie sê vir Middelburg se ongelooflike gemeenskap, ons voel gesien en gehoor en geliefd,” sê hy.
Jacques het vroeër vandeesweek uit Turkye, waar hy as kontrakteur gewerk het, in Suid-Afrika geland. Hy sal moontlik binnekort plaaslik ook werk moet soek, “want my seuns het my nodig, ek kan nie weer buiteland toe nie.”
Hy het juis in Turkye gewerk om vir sy gesin te kan sorg en die reis terug Suid-Afrika toe om sy dogter te kom groet, was die mees uitmergelende van sy lewe, sê hy.
Janeke is gister eers formeel uitgeken.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za