Bagasiebakmoord in Middelburg: 3 pleit onskuldig

Nadat twee ander reeds tronkstraf ontvang het vir hulle rol om van Danie Maritz se liggaam ontslae te raak, het drie mans vandag in die hof verskyn.

Die oorblywende drie beskuldigdes ná die moord op Danie Maritz, het vanoggend in die Middelburg-streekhof onskuldig gepleit op die klagtes teen hulle.

Volgens Middelburg Observer word Jan Jordaan en Kobus Pretorius aangekla van moord en Emele Jacobs vir die gebeure ná die moord. Jordaan en Pretorius is albei in aanhouding en Jacobs is steeds uit op waarskuwing.

Maritz is die nag van 15/16 November 2023 by ’n skrootmetaalbesigheid in Middelburg vermoor. Sy lyk is daarna in die bagasiebak van Angelique Appelgryn se voertuig gelaai en later naby ’n myn by Clewer aan die brand gesteek.

Jan Jordaan, Kobus Pretorius en Emele Jacobs. Foto’s: Verskaf

2 reeds tronk toe

Alex Grobler is reeds in Oktober 2024 tydens ’n pleitooreenkoms met die staat ook vyf jaar gevangenisstraf opgelê vir sy aandadigheid om van die lyk ontslae te raak.

Middelburg Observer het verlede jaar berig dat Appelgryn (28) in ‘n pleitooreenkoms met die staat skuldig gepleit het op twee klagtes: Sameswering tot aanranding en aanranding, asook haar betrokkenheid om van Maritz se lyk ontslae te raak.

Appelgryn is ook vyf jaar tronk toe gestuur.

Sy het vir Maritz geken en het hom gevra om namens haar dwelms en koper te verkoop. Hy het egter gedreig dat hy vir Jacobs (beskuldigde vier) gaan vertel dat sy dit van hom gevra het. Hy wou ook polisie toe gaan om te sê dat Jacobs gesteelde goedere verkoop.

Sou Maritz ’n les leer

Sy het verder getuig dat sy en Jacobs besluit het om ‘hom ’n les te leer’ en hom te laat aanrand deur Jordaan en Pretorius. Hy is op 15 November na die skrootmetaal besigheid gelok met die belofte dat Jacobs hom gaan betaal vir skrootmetaal wat hy verkoop het.

Hy was besig om sy skrootmetaal op te sny, toe, volgens haar, Jordaan en Pretorius hom begin aanrand het.

Sy het verder beweer dat Jordaan en Pretorius by die kantoor ingekom het en volgens die ooreenkomsverklaring sou Pretorius gesê het dat Maritz dood is en dat sy niemand moet vertel nie, want dan gaan hulle ‘volgende wees’.

Pretorius se hande glo vol bloed

Volgens haar was Pretorius se hande vol bloed en hy en Jordaan het daarna van die perseel af verdwyn.

Sy wou die polisie skakel, maar het gesê dat Jacobs haar afgeraai het om dit te doen, omdat die gesteelde eiendom op die perseel gekry sou word.

Op sy aandrang moes sy vir Grobler skakel en het sy hom gaan oplaai in eMalahleni en teruggeneem na die skrootmetaalbesigheid in Middelburg. Grobler het daarna Maritz se liggaam in Appelgryn se bagasiebak gelaai.

Sy het ook beweer dat Jacobs haar telefonies ingelig het dat die liggaam aan die brand gesteek moes word.

Sy kon nie slaap nie en het Grobler gebel. Hy het genoem dat hy nie meer brandstof het nie. Appelgryn het gesê sy en Jacobs het gaan brandstof koop en agter hom aangery tot by ‘n grondpad.

Daarna meld die verklaring dat Grobler die brandstof gevat het, dit in Appelgryn se voertuig (met Maritz se oorskot in die bagasiebak) ingegooi en aan die brand gesteek het.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button