Bagasiebakmoord in Middelburg: Vrou pleit skuldig
Angelique Appelgryn het in ’n pleitooreenkoms skuld erken aan haar betrokkenheid by die moord op Danie Maritz in November 2023.
Angelique ‘Angie’ Appelgryn is Vrydag in die streekhof in Middelburg tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis vir haar aandadigheid in die gebeure ná die moord op Danie Maritz.
Volgens Middelburg Observer het Appelgryn (28) in ‘n pleitooreenkoms met die staat skuldig gepleit op twee klagtes: Sameswering tot aanranding en aanranding, asook haar betrokkenheid om van Maritz se lyk ontslae te raak.
Sy het die hele tyd trane afgevee, terwyl die omstandighede van die moord in die pleitooreenkoms afgelees is.
Moord by skrootmetaalbesigheid
Maritz is die nag van 15/16 November 2023 by ’n skrootmetaalbesigheid in Middelburg vermoor. Sy lyk is daarna in ’n bagasiebak gelaai en later naby ’n myn by Clewer aan die brand gesteek.
Alex Grobler is reeds in Oktober 2024 tydens ’n pleitooreenkoms met die staat ook vyf jaar gevangenisstraf opgelê vir sy aandadigheid om van die lyk ontslae te raak.
Terwyl die moordnag se gebeure punt vir punt afgelees is, is gesê dat Appelgryn ten alle tye geweet het dat dit wat sy gedoen het, onwettig is.
Beskuldigde het Maritz geken
Appelgryn het Maritz geken en het hom gevra om namens haar dwelms en koper te verkoop.
Daar is gesê dat Maritz gedreig het om Emile Jacobs (beskuldigde vier) te vertel dat sy hom (Maritz) gevra het om dwelms namens haar te verkoop. Hy wou ook polisie toe gaan om te sê dat Jacobs gesteelde goedere verkoop.

‘Hulle wou Maritz ‘n les leer’
In die ooreenkoms word aangedui dat Appelgryn en Jacobs besluit het ‘om hom ’n les te leer’ en hom te laat aanrand deur Jan Jordaan en Jacobus ‘Kobus’ Pretorius. Jordaan en Pretorius is beide steeds in aanhouding en word aangekla van moord.
Die ooreenkoms verduidelik verder dat Maritz op 15 November na die skrootmetaal besigheid gelok is deur Jacobs met die belofte dat hy hom gaan betaal vir skrootmetaal wat hy verkoop het.

Maritz sou aangerand word
Daar is ooreengekom dat Pretorius en Jordaan vir Maritz sou aanrand sodat hy sal stilbly oor waarmee Appelgryn en Jacobs besig is.
Die ooreenkoms meld dat Jacobs, nadat hy en Appelgryn by die skrootmetaalbesigheid aangekom het, gery het om alkohol te gaan koop.
Maritz was besig om sy skrootmetaal op te sny, toe Jordaan en Pretorius hom begin aanrand.
Daar is vertel hoe Appelgryn by ’n kantoor ingegaan het, omdat sy, ‘nie die aanranding wou sien nie’.
Toe sy in die kantoor kom, het sy omgedraai en teruggekyk, waar sy gesien het hoe Pretorius vooroor gebuk staan en bewegings maak met sy arms.
Aanranding word moord
Jordaan en Pretorius het by die kantoor ingekom en volgens die ooreenkomsverklaring sou Pretorius gesê het dat Maritz dood is en dat sy niemand moet vertel nie, want dan gaan hulle ‘volgende wees’.
Volgens haar was Pretorius se hande vol bloed en hy en Jordaan het daarna van die perseel verdwyn.

Toesmeer van die misdaad
Sy het Jacobs geskakel en gevra of sy die polisie moet kontak. Hy het gesê sy moenie, want hulle sal dan die gesteelde eiendom op die perseel vind.
Hy het haar aangesê om ‘Alex’ te skakel. Sy hulp is gevra, waarna sy hom gaan oplaai het in eMalahleni en teruggeneem het na die skrootmetaalbesigheid in Middelburg.
Grobler het Maritz se liggaam in Appelgryn se bagasiebak gelaai.
In hierdie tyd was daar ook ‘n werker op die perseel (sy naam is in die pleitooreenkoms genoem, maar word weerhou omdat hy nie een van die beskuldigdes is nie).
Die werker, Appelgryn en Grobler het teruggery na eMalahleni, waar Grobler hom en Appelgryn afgelaai het. Grobler het weggery met haar kar.
Beplanning om lyk te verbrand
Volgens Appelgryn se verklaring het Jacobs haar telefonies ingelig dat die liggaam aan die brand gesteek moes word.
Sy kon nie slaap nie en het Grobler gebel. Hy het genoem dat hy nie meer brandstof het nie. Appelgryn en Jacobs het gaan brandstof koop en agter hom aangery tot by ‘n grondpad.

Kar met Maritz in bagasiebak aan die brand gesteek
Daarna meld die verklaring dat Grobler die brandstof gevat het, dit in Appelgryn se voertuig (met Maritz se oorskot in die bagasiebak) ingegooi en aan die brand gesteek het.
Al drie het in Jacobs se voertuig die toneel verlaat. Vandaar het Jacobs vir Grobler gaan aflaai en hy en Appelgryn is terug na sy woonstel.
Grobler het voorgestel dat sy die polisie kontak en aandui dat haar kar gesteel is.
Hy het haar meegedeel dat hy ‘n sleepwa het om die voertuig wat uitgebrand het te gaan oplaai.
Jacobs het daarna vir Grobler laat weet dat hy die voertuig moet oplaai en dit vat na die skrootmetaalbesigheid toe ‘waar daar van dit ontslae geraak sou word’.
Daar is gemeld dat Grobler hulle egter laat weet het dat die polisie reeds die uitgebrande voertuig gevind het en dat sy nie moet polisiestasie toe gaan nie.
Hy sou die saak gaan open en sê dat die kar gesteel is terwyl dit in sy besit was.
Grobler het haar egter weer geskakel en gesê sy moet na die Vosman-polisiestasie toe gaan en sy en Jacobs is daarheen.
Versagtende omstandighede:
- Dat sy verantwoordelikheid aanvaar vir haar deel in die misdaad.
- Dat sy berou wys.
- Nie verder die staat se tyd mors nie.
- Haar volle samewerking gee.
- Bereid is om teen die ander beskuldigdes te getuig.
- ‘n Eerste oortreder is.
- Haar siektetoestande is ook uitgelig.
Verswarende omstandighede:
- Albei klagtes is van ‘n ernstige aard.
- Dit was haar voorstel om die tragiese gebeure te begin.
- Sy wou die misdaad toesmeer.
- Haar aksies het baie hartseer vir die oorledene se familie veroorsaak en sy het stil gebly, wetende wat met hulle geliefde seun gebeur het.
- Daar is ook gemeld dat as dit nie vir die polisie was wat die voertuig gevind het voordat Grobler dit kon verwyder nie, dit dalk nooit aan die lig gekom het wat met die oorledene gebeur het nie.
Anel Nienaber het aangekla vir die staat en Josef van Eeden het opgetree vir die verdediging.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za