Bakleiery by Wes-Randse laerskool plaas afknouery in kollig

’n Dissiplinêre proses is onlangs by die Laerskool Randfontein afgehandel nadat gr. 5-leerder mekaar glo ‘rondgeruk en geslaan’ het.

Afknouery is steeds ’n werklikheid in skole en die Gautengse onderwysdepartement waarsku dat dit nie geduld sal word nie.

Dié waarskuwing kom ná ’n onlangse boelievoorval by die Laerskool Randfontein aan die Wes-Rand.

Steve Mabona, departementele woordvoerder, het bevestig hulle is bewus van die voorval en sê die nodige dissiplinêre stappe is geneem.

Hy noem verder dat een leerder skuldig bevind is en dat hy twee weke se detensie sowel as ’n finale waarskuwing as straf ontvang het. Hy het bygevoeg dat hul psigososiale ondersteuningspan gevra is om alle betrokke partye by te staan.

Mabona sê die departement duld geen vorm van wangedrag óf afknouery nie.

“Enige persoon wat bevind word dat hy hierdie beleid oortree, sal hanteer word in ooreenstemming met die Suid-Afrikaanse Skolewet se gedragskode, wat alle skole beheer. Skole word aangemoedig om hul gedragskode te implementeer om afknouery en ander dissiplinêre sake te hanteer.

“Ons vra ouers om die departement te help om dissipline by die leerder te vestig, binne en buite die skoolomgewing,” sê Mabona.

Dispuut tussen gr. 5-leerders

Leon Haupt, skoolhoof van die Laerskool Randfontein, bevestig daar was ’n voorval voor skoolure op 9 Oktober tussen drie gr. 5-leerders.

Hy verduidelik dat dit as ’n verbale dispuut begin het wat later daartoe gelei het dat twee van die seuns mekaar ‘rondgeruk en geslaan het’.

Ander leerders het die bakleiery gestop en dit by personeel aangemeld. Hy het bygevoeg dat die bestuur van die skool die nodige dissiplinêre stappe geneem het.

“Alle bekommerde partye se ouers is gekontak en weens die aard van die oortreding is al drie seuns vir ’n dissiplinêre verhoor gedaag. Die beheerliggaamvoorsitter en ondervoorsitter het die verhoor gelei.

Dissiplinêre verhoor

“Alle betrokkenes is die geleentheid gebied om hul weergawe van die voorval te vertel waarna die dissiplinêre komitee ’n uitspraak gemaak het met inagneming van al die getuienis en die kamera-opname van die voorval. Die volledige verslag is reeds op 25 Oktober aan die onderwysdepartement en distriksdirekteur gestuur,” sê Haupt.

Volgens hom tree die laerskool in alle gevalle streng teen enige vorm van bakleiery of boeliegedrag wat op die terrein plaasvind op.

“Daar word in alle gevalle streng volgens die gedragskode gehandel. Die skool het reeds hierdie jaar verskeie sprekers, waaronder Ivor Swartz, by die skool gehad om met die leerders te praat oor boeliegedrag en dit wat daartoe aanleiding gee.

“Die skool se voltydse berader word ook betrek indien dit sou nodig wees om leerders emosioneel te ondersteun. Personeel en leiers is voor skool, tydens pouses en ná skool aan diens om goeie toesig oor ons leerders uit te oefen.”

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button