Bejaarde van Vanderbijlpark in hospitaal na botsing teen bees

'n Losloper-bees het onlangs voor 'n 62-jarige vrou ingeloop terwyl sy op haar motorfiets op pad huis toe was.

‘n 62-jarige ma en ouma van Vanderbijlpark, Tina Esterhuizen lê met ‘n gebreekte been en arm in die Sebokeng-hospitaal nadat sy op 31 Maart in ‘n ongeluk op die Barragepad naby Alex Roadhouse beseer is.

Esterhuizen was die middag omstreeks 12:10 met haar 125cc motorfiets van Vaal Mall af op pad na haar woning op ‘n hoewe aan die oostekant van Vanderbijlpark, toe ‘n losloper-bees oorkant Alex Roadhouse skielik voor haar ingehardloop het.

Esterhuizen is na die ongeluk na die Sebokeng-hospitaal vervoer, waar vasgestel is dat haar linkerbeen net bokant die knie en net onder die heuppotjie gebreek is. Haar linkerarm is ook op twee plekke net bokant die pols gebreek.

Volgens haar seun, Stefan, moet sy dringend ‘n operasie aan haar been en arm ondergaan, maar weens probleme met die lugversorging in die hospitaal se teaters sal daar nie gou geopereer kan word nie. Sy verduur baie pyn en haar familie probeer nou uitvind of daar ‘n ander staatshospitaal is waar sy vinniger geopereer kan word.

“Ek wens die mense wat hulle beeste so alleen en sonder toesig op die Barragepad en ander hoofroetes laat loop, word beboet. Ek hoop die eienaar voel skuldig daaroor en dat sy gewete hom goed sal pla,” sê Stefan.

Read original story on vaalweekblad.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button