Bejaarde vermoor op Wes-Kaapse plaas: Tiener laat vaar borgaansoek
Valerie Enzer het vir die afgelope 18 jaar alleen op ‘n plaas in die Klein Karoo gebly waar haar liggaam Maandag gevind is.

’n Tienerseun wat van die moord en verkragting van ‘n 79-jarige vrou op die plaas Doringkloof naby Van Wyksdorp in die Klein Karoo aangekla word, het hierdie week sy borgaansoek laat vaar.
Die 16-jarige seun het Dinsdag (15 Julie) in die Ladismith-landdroshof verskyn in verband met die wrede moord op Valerie Enzer (79), wie se liggaam Maandagoggend gevind is.
Slagoffer bly in aanhouding tot einde Julie
Die Oudtshoorn Courant berig dat Eric Ntabazalila, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag, bevestig het dat die beskuldigde nie 17 jaar oud is soos aanvanklik berig is nie, maar 16.
Volgens sers. Chris Spies, Suid-Kaapse polisiewoordvoerder, is die verdagte in aanhouding en sal hy op 30 Julie weer in die hof verskyn.
Die seun staan tereg op aanklag van moord, huisroof, verkragting, diefstal en veediefstal. Meer aanklagte kan moontlik volg namate die ondersoek vorder sê Spies.
Die beskuldigde het sy reg op borgtog van die hand gewys en is tans in aanhouding in ’n fasiliteit vir kinders wat met die gereg bots.
Moord deur ernstige geweldsmisdaadeenheid ondersoek
’n Lykskouing is Dinsdag uitgevoer om die presiese oorsaak van dood te bepaal. Die verslag is nog uitstaande en sal deel vorm van die voortgesette ondersoek.
Die saak word tans deur die Wes-Kaapse eenheid vir ernstige en geweldsmisdade ondersoek.
“Ons is huiwerig om enige verdere kommentaar oor die meriete van die saak te lewer, aangesien dit in die hof aangehoor sal word,” het Ntabazalila bygevoeg.
Hy het gesê dat die beskuldigde géén kriminele rekord het nie, in teenstelling met vroeëre berigte.
Enzer se moord ‘n groot skok vir gemeenskap
Enzer, wat van Skotse afkoms is, het die afgelope 18 jaar alleen op die plaas gewoon. Haar liggaam is Maandagoggend kort na 09:00 deur ’n plaaswerker op die stoep van haar huis aangetref.
Volgens inwoners van Van Wyksdorp was sy geliefd in die gemeenskap en het haar dood groot skok en hartseer veroorsaak.
Read original story on www.oudtshoorncourant.com