Beweerde swendelaar van Mpumalanga in die hof

Sy word van swendelsake in Mpumalanga en Gauteng verdink met privaatspeurder Mike Bolhuis wat ook op haar spoor is.

Die nou reeds berugte Marlothpark-inwoner Larissa Maritz, wat by talle beweerde ‘swendelarye’ betrek is, sal vroeg volgende jaar in die hof moet gaan antwoord oor hoekom ‘n beskermingsbevel teen haar, wat onder meer beveel dat sy ‘n ander besigheidsvrou en haar gesin nie mag agtervolg nie, nie permanent van kragte gemaak moet word nie.

Vroeër dié maand het die polisie op die dorp ‘n voorlopige beskermingsbevel op Maritz beteken nadat ‘n plaaslike sakevrou die hof om hulp genader het ‘om haar besigheid se goeie naam te beskerm’.

Juanita Swanepoel, die eienaar van Funky Fashions, het vir die bevel aansoek gedoen nadat sy vasgestel het Maritz misbruik glo haar onderneming se naam.

In haar verklaring sê Swanepoel sy het van die beweerde gebruik van Funky Fashions se naam bewus geword nadat ‘n vrou klere by ‘n vlooimark in Marlothpark bestel het, maar dat dié nooit afgelewer is nie.

Lelanie Basson van Lydenburg het in Julie die bestelling van R1 600 betaal, maar het steeds nie die klere ontvang nie.

Basson het kort daarna vir Swanepoel gekontak om oor die transaksie te kla, maar Swanepoel was nie bewus van so transaksie nie.

Op 28 November, tydens ‘n besoek aan Marlothpark, het Basson en haar man, Maritz se motor langs die pad sien staan en by haar gestop om haar te konfronteer.

Maritz het toe glo beweer sy is mede-eienaar van Funky Fashions.

Basson het die bewering aan Swanepoel oorgedra wat aan haar bevestig het dat sy alleen eienaar van Funky Fashions is.

Swanepoel het Maritz hieroor gekonfronteer. Sy het ook ‘n nota op sosiale media geplaas om mense te waarsku dat Maritz haar onderneming se naam misbruik.

Volgens Swanepoel het Maritz in WhatsApp-boodskappe, wat ‘n gros stemnotas insluit, verskeie dreigemente teenoor haar gemaak.

Maritz het onder meer glo gedreig sy sal sorg dat Funky Fashions ten gronde gaan en selfs ‘n video van Swanepoel se winkel gemaak en aan haar gestuur.

In haar verklaring sê Swanepoel sy is vasbeslote om haar en haar onderneming se goeie naam teen Maritz se dreigemente te beskerm. Sy wil ook verhoed dat haar onderneming finansiële skade ly.

In die beskemingsbevel het die landdros Maritz beveel:
1. om nie Swanepoel met geweld te dreig nie,
2. om nie die onderneming se naam onder valse voorwendsels te gebruik nie,
3. om nie Swanepoel, haar gesin of familie te agtervolg nie, en
4. om nie valse inligting oor Funky Fashions te versprei of voor te doen dat sy daarby betrokke is nie.

Die verhoor is tot 11 Januarie 2024 uitgestel wanneer Maritz redes moet aanvoer waarom die bevel nie permanent gemaak moet word nie.

Maritz het die week gesê sy gaan beslis die voorlopige bevel teen haar teenstaan.

* Laevelder het die afgelope maande verskeie kere oor Maritz en haar beweerde swendelarye berig. Selfs die bekende privaat speurder, Mike Bolhuis, is besig met ondersoeke teen haar. Die koerant het ook onlangs berig hoe Maritz ‘n beskermingsbevel teen ‘n Marlothpark-vrou gekry het nadat dié waarskuwings oor Maritz op Facebook gedeel het.

 

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button