Boetiekaftreekompleks op kusduinsone in Sedgefield: Ontwikkelaar eis R5m van aktivis

'n Aktivis en 'n ontwikkelaar is in 'n regsgeding gewikkel oor 'n aftreekompleks op 'n kusduinsone – iets waarteen SANParke ook gekant is.

Tessa Joubert, ‘n ontvanger van die Sedgefield Ratepayers & Residents Association se Celebrate Sedgefield-toekenning in 2023, word nou deur ‘n ontevrede ontwikkelaar vir R5m gedagvaar oor haar teenkanting teen die bou van ‘n boetiekaftreekompleks op ‘n kusduinsone in die dorp.

Joubert se aktivisme het volgens die ontwikkelaar, Sandpiper Nature Reserve in Knysna, ‘n vertraging van 14 maande veroorsaak.

Volgens hofstukke in Knysna-Plett Herald se besit, sê Sandpiper dat die maatskappy ‘n verlies van amper R4.9m gely het weens opgehoopte boukoste, en dat hy ‘n verdere R119 570 op regs- en konsultasie-kostes moes spandeer.

Sandpiper beweer dat Joubert die vertraging veroorsaak het deur ‘onwettig en onjuis’ teen die projek beswaar te maak.

‘Dis ‘n SLAPP’

Joubert is egter van mening dat sy geregtig was om besware in te dien, en dat die R5m-eis van die ontwikkelaar bloot ‘n stilmaak- en intimidasietaktiek teen haar en ander omgewingsaktiviste is.

Volgens Joubert is die ontwikkelaar besig om ‘n SLAPP-proses (Strategic Lawsuit Against Public Participation) aanhangig te maak om haar in haar spore te stuit.

In regsterme is ‘n SLAPP-regsaak ‘n regsgeding wat ingedien word om opposisie, veral dié wat menings uitspreek oor sake van publieke belang, te ontmoedig deur hulle te dwing om tyd en geld aan duur regsaksie te bestee.

‘Dis NIE ‘n SLAPP’

By navraag het Sandpiper se Richard Sohn aangedui dat die saak later vanjaar voor die hof sal dien.

“Ons kliënt voer aan dat hulle as gevolg van Tessa Joubert se optrede, wat hulle voel onredelik was, bykomende uitgawes aangegaan het en vertraag is in die uitvoering van hul projek, wat hulle finansiële verlies veroorsaak het.

“Joubert voer aan dat die aksie ingestel is om haar stil te maak. Niks kan verder van die waarheid wees nie. Ons kliënt hoef haar nie stil te maak nie, aangesien die regte wat hulle gesoek het, toegestaan is. Dit sal vir die howe wees om te bepaal of Joubert redelik en regmatig opgetree het,” lui hul verklaring.

Wet ‘beskerm my’

Joubert sê egter dat sy onder die Nasionale Omgewingsbestuurswet 107 van 1998 beskerm word, en dat sy die reg het om beswaar teen die ontwikkeling te maak.

Hierdie wet beskerm enigiemand wat getuienis van ‘n moontlike omgewingsrisiko openbaar teen siviele aanspreeklikheid. Joubert is van mening dat haar besware in die regsraamwerk val en dat sy dus geen skuld dra nie.

Sandpiper Nature Reserve ontken egter dat die erf ter sprake ‘n ekologies sensitiewe gebied is en beskryf die grond eerder as ‘n ‘herstelde stortterrein’.

Hierdie teenstelling oor die omgewingstatus van die grond is een van die kernpunte van die regsgeveg. Sandpiper beweer dat die vertraging onregverdig was en dat die ekologiese besware ongegrond was.

Dit blyk dus dat die bouproses nog vir etlike maande sal sloer hangende die uitkoms van die hofsaak. Die hofuitspraak sal ook ‘n waterskeidingsaak wees vir soortgelyke aktiviste in die toekoms.

SANParke

By navrae het SANParke bevestig dat hulle amptelik ook beswaar gemaak het teen die ontwikkeling van die boetiekaftreekompleks op die betrokke erf omdat dit volgens hulle die biodiversiteit bewaring en landskap konnektiwiteit sal benadeel.

Joubert se prokureur, Richard Summers, het ten tye van publikasie nie op Knysna-Plett Herald se navrae gereageer nie.


 

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.knysnaplettherald.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button