Brakpan motorfietsryer skenk organe na sy dood

Charl Williams se familie sê die feit dat hy soveel mense kon help, selfs na sy dood, is sy grootste nalatenskap.

Charl Williams (24), van Brakpan-sentraal is verlede Maandag oorlede nadat hy op 1 April in ‘n motorfietsongeluk was, net om die draai van sy ouerhuis in Dal Fouche.

Hy het die oggend ‘n gesinsfoto geleentheid gehad met sy verloofde, Christine van Heerden (24) en sy twee dogters, met wie hy ‘n baie hegte band gehad het.

Daarna het hulle na sy ouers se huis gegaan vir ‘n familie-ete, en Williams het gou met sy motorfiets na die vulstasie gery om brandstof in te gooi. Die ongeluk het op die hoek van Claredonstraat en Olympiaweg plaasgevind.

Hospitaal behandel Williams met uiterse sorg

Williams het ernstige kopbeserings opgedoen asook inwendige bloeding wat veroorsaak het dat daar nie dadelik op hom geopereer kon word nie.

Sy familie sê die Verre Oos Rand Hospitaalpersoneel het hom met die uiterste sorg behandel tot die dag van sy dood.

Hulle het groot lof vir die intensiewe sorgeenheid waar hy behandel is, selfs nadat hy reeds breindood verklaar is, en voorberei moes word om organe te skenk.

‘n Gesinsman met ‘n liefde vir mense

Williams het ses dae ‘n week gewerk as afleweringsdrywer en winkel assistent. Sondae was sy tyd met sy gesin.

Sy family beskryf Williams as ‘n eenvoudige man met ‘n groot liefde vir mense.

Hy het gehou van visvang, dans, en volgens sy ma, Vicki, was hy nie veel gepla oor televisie kyk nie. Sy vermaak het bestaan uit musiek en sy dogters se manewales.

Williams, sy tweelingboetie Brett, en hul pa Charles het daarvan gehou om saam aan motors en motorfietse te werk.

Die belangrikste nalatenskap

Charl se grootste nalatenskap is sy familie en die feit dat hy ‘n orgaanskenker is.

“Dit was so opbouend om te hoor hoeveel lewens hy kon red selfs na sy dood,” het Vicky vertel.

Vicky is self ‘n orgaanskenker, en voel dit is die belangrikste ding wat enige iemand kan agterlaat as hulle sterf.

Williams se denkdiens is op 12 April by die PPK Lighuis Kerk gehou.

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button