Brandstofdalings maak pad oop vir Innibos-winterwegbreek
Die Laeveld skud weer vere reg vir die Innibos-fees wat amptelik more begin.
Met die brandstofprys wat vanaf vanaand (1 Julie) daal, het mense wat in ander provinsies woon nog minder rede om nie IN te wees by dié jaar se fees te wees nie.
Die Toyota Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees bied die perfekte bekostigbare wintersvakansie en die beste deel is dat daar nog verblyf én kaartjies beskikbaar is.
Beplan jou vakansie rondom Innibos en ontdek sommer alles wat die Laeveld so besonders maak. Geniet ‘n dag in die Krugerwildtuin, verken die Panorama-roete en sy ikoniese watervalle, ervaar die streek se sonnige winterklimaat en geniet sommer net dié land se lekkerste kunstefees.
Dié fees is die perfekte kombinasie van ontspanning, avontuur, kultuur en gesinstyd.
Volgens Andy Lubbe, feesbestuurder van Toyota Innibos, vier ons alles wat IN is. “Die Laeveld is een van Suid-Afrika se gewildste wintervakansiebestemmings, en Innibos maak dit die ideale vakansie waar besoekers hul hele wegbreek rondom die fees kan beplan. Al wat nou kort, is jy,” sê Lubbe.
Feesgangers kan uitsien na groot kunstenaars soos Die Heuwels Fantasties, Appel en Francois van Coke, om net ’n paar te noem.
Maar daar is veel méér op die spyskaart as net musiek. Daar is iets vir almal: topgehalte-teater, boeke, kuns, ‘n propvol kinderprogram en die Woelwaters-area, ruim 300 stalletjies, heerlike kos, ‘n opwindende pretpark en die Springbok-toets teen Engeland regstreeks op groot skerms.
Die fees maak dit boonop maklik om te ontspan met gerieflike pendeldienste, veilige parkering, kinderoppasgeriewe en gratis WiFi op die feesterrein. Alles is daarop gemik om besoekers meer tyd te gee om die fees én die Laeveld te geniet.
Vir volledige programinligting en kaartjies, besoek innibos.co.za.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za