Brandvoorval in Vereeniging: Moordverdagte steeds in hospitaal
'n Man wat glo petrol oor sy saamleefmaat gegooi en haar aan die brand gesteek het, kon nie in die hof verskyn nie.
‘n Man wat aangekla word van moord nadat hy glo petrol op sy saamleefmaat uitgegiet en haar aan die brand gesteek het, sterk steeds in die Sebokeng-hospitaal aan.
Die man moes verlede Dinsdag in die streekhof in Vereeniging verskyn het vir die moord op Linell du Toit (42) wat verlede Sondag in die Sebokeng-hospitaal aan haar brandwonde beswyk het. Hy kon egter nie die hofverrigtinge bywoon nie en daarom mag sy identiteit nie bekendgemaak word nie.
Sy regsverteenwoordiger het laat weet dat hy steeds in die Sebokeng-hospitaal behandel word.
Vaalweekblad verneem die verdagte het brandwonde aan sy arms opgedoen tydens die voorval.
Streeklanddros Retha Willemse het die saak tot volgende Woensdag uitgestel, wanneer die man moontlik weer op die been sal wees en waarskynlik ‘n borgaansoek sal bring.
Voorval
Die voorval het 26 Oktober omstreeks 17:30 by ‘n woonstel in Uniestraat in die middestad afgespeel, waar Du Toit en haar saamleefmaat ‘n woonstel gedeel het.
In videomateriaal van die voorval kan mens sien hoe ‘n vuur by die woonstel uitbreek en hoe ‘n inwoner van die woonstelgebou dan die vlamme blus.
Du Toit het derde- tot vierdegraadse brandwonde oor 80% van haar liggaam opgedoen en was vir ‘n week lank in die Sebokeng-hospitaal. Sy het aan haar beserings beswyk.
In ‘n opspraakwekkende video wat voor haar dood opgeneem is, en wat wyd op sosiale media gedeel is, vertel sy hoe haar saamleefmaat haar met petrol gegooi en aan die brand gesteek het.
Sy sê ook dat hy vir haar gesê het om te sê dat dit ‘n ongeluk was.
“Dit was nie ‘n ongeluk nie,” het sy gesê terwyl sy gelê en ruk het van die pyn en skok.
Verskeie lede van die gemeenskap en inwoners van die woonstelblok waar die verdagte en oorledene gebly het, was verlede week by die hof vir Van Staden se verskyning, maar sal moet wag tot volgende week.
Read original story on www.citizen.co.za