Dáái menopouse: Arina de Witt terug op die planke

Op 69 maak ’n geliefde sangeres haar kragtige teaterterugkeer in ’n eerlike stuk oor menopouse, rypheid en vrouwees.

Die middeljarige vrou op die verhoog struikel oor haar trourok. Dit is lank, wit, outyds. Amper onvanpas vir die lyf wat al baie somers gesien het.

“Oeps,” fluister sy so saggies dat net die voorste twee rye by die Fairtree Atterbury-teater haar hoor.

Sy kom vinnig weer op haar voete; die vertoning moet aangaan. Niemand sal weet dat daardie amper-val nie deel van die choreografie was nie. Natuurlik was dit bloot haar manier om die verhoog optimaal te benut en visuele spanning te skep.

Ná 70 uitmergelende minute trek dié sangeres Arina de Witt haar kostuum uit, vee die sweet van haar voorkop, plak ’n nuwe menopouse-verligtingspleister iewers op haar vel en gooi haar baadjie oor haar skouer.

O meno o pouse

De Witt is terug op die verhoog: Nie as sangeres nie, maar as aktrise met ’n produksie, O meno o pouse, wat vir 30 jaar lank ‘iewers tussen bladmusiek’ vir haar gewag het om ouer te word, om self deur menopouse te gaan.

“Nou verstaan ek ook vir Bets – die karakter – baie beter,” sê sy en blaas haar kuif uit haar oë. “Ek het ook lanklaas my hare gekleur,” sê sy en vryf oor die grys gedeeltes wat deur haar donker hare slaan, “maar ek kon mos nie nou my hare gaan staan en kleur nie. Dit is hoe my karakter lyk, en basta met die res.”

De Witt is 69 jaar oud, en met dié produksie maak sy ná soveel jare haar terugkeer as teateraktrise. “Daar is nie meer baie ouer sangeresse nie; enigiets kan met jou stem gebeur, en ons moet besef dat die jonger generasie beter as ons in knap denims lyk,” lag sy, “maar ’n aktrise kan altyd toneel speel. Dit maak nie saak hoe oud jy is nie.”

Die dramaturg en skrywer P.G. du Plessis het dié stuk vir haar geskryf. “Hy het die teks nog op sy tikmasjien aanmekaar getimmer. Ek onthou dat ek nogal geskok was oor die vloekwoorde en het ook nie die woord ‘menopouse’ lekker verstaan nie. Ek dink ek was maar baie naïef in my jonger dae en die woord was klaarblyklik maar net n fase waardeur ou tannies gaan, waaroor mense nie sommer praat nie. Amper soos vloek…”

Nou is De Witt glad nie skaam om so hier en daar te swets nie. “Ek dink elke vrou wat deur menopouse gaan, verstaan die woord ‘verdomp’ baie goed. Die gebruik van kras woorde in die stuk weerspieël die werklikheid.

“Vroue is nie meer preutse poppies nie; ’n uitdrukking is net klank en ’n uiting van gevoel. Selfs ek, wat dink ek was vroeër onskuldiger, besef ’n vloekwoord is net ’n klank wanneer ’n mens so voel.”

Sweterig en ‘moerig’

De Witt vertel dat sy iewers in haar middelveertigs haar oorgangsjare betree het. Sy was gelukkig genoeg om nie met gewigstoename of haarverlies te sukkel nie, maar die nagsweet en hittegloede kry net nie ’n einde nie. “Ek dink vroue is ook meer gemaklik daarmee om oor dinge te praat wat 30 jaar gelede taboe-onderwerpe was.

“Vroue was te lank oorgelewer aan preutse verwagtinge van ordentlikheid, ondergeskiktheid en stilbly. Ons begin nou praat oor dit wat binne ons aangaan, oor menopouse, oor sweet, estrogeenplakkers en hartseer.”

De Witt sê dat sy op hierdie stadium van haar lewe vrede met haar lyf gemaak het. Sy sit sonder selfbewustheid kruisbeen op die verhoog en kan sonder ’n  gekreun en gekramp opspring. “Dit was nogal snaaks toe vroue my vra of ek nie gesukkel het om op te staan nie.

“Ek steur my nie meer aan oppervlakkige dinge nie, en ja, ek lyk beter met klere as sonder klere, maar ek steur my nie meer so baie aan hoe ek aan die buitekant lyk nie. Wat eintlik saak maak, is binne jou.”

Van sangeres na aktrise

De Witt het drama aan die Universiteit van Stellenbosch gestudeer, maar het ook sang as ’n byvak geneem. Sy was deel van die luisterliedbeweging waar musiek en woorde ’n dieper liriese betekenis het. Dit is musiek waarna geluister moet word, eerder as om net daarmee saam te sing.

“Vir my was sing nog nooit werk nie; dit kom heeltemal natuurlik en was regtig nog nooit ‘n inspanning nie. Agter die gordyn is ek lankal nie meer op my senuwees of bekommerd nie; dit het eenvoudig net ‘n natuurlike proses geword.

“Ek sing nou graag liedjies uit musiekblyspele – soos Gabriella’s Song wat handel oor ’n vrou wat so swaar gekry het. Nog ’n voorbeeld is en I Dreamed a Dream uit Les Miserables. Dit is amper soos ’n fliek wat op die waarheid gegrond is. Die boodskap het vir my belangriker geword as net ’n mooi wysie.”

In O meno o pouse kombineer sy musiek en toneel.  “P.G. het die stuk oorspronklik as ’n eenvrouvertoning geskryf. Die karakter Bets sing nie net sommer songs nie; die dialoog word die musiek. Dit vertel haar hele storie. Alles wat in haar hart is, kom uit deur dit wat sy in die liedjies sê.”

Om lirieke te leer is al lankal nie meer vir De Witt ’n uitdaging nie, maar om dialoog te leer is ’n perd van ’n ander kleur. “As die woorde snags in jou slaap op jou neerreën – en boonop nie eers in die regte volgorde nie – word ’n mens die volgende oggend wakker en jy is sommer ‘moerig’ vir die lewe.

“Tog is dit ‘n heerlike bewys dat die brein geen afsnypunt ken nie; deur herhaling en internalisering setel die teks hom uiteindelik sonder dat jy aan die woorde twyfel.”

Bets’ deel van De Witt se grootwordjare

Bets en De Witt het eintlik niks gemeen nie, behalwe albei se liefde vir musiek. “Bets se klavier is haar minnaar. Vir my is musiek ook die draad deur my lewe. Musiek vul daardie deel van ’n mens se lewe wat niemand sal verstaan as dit nie deel is van jou nie.”

Die karakter is ook gegrond op ’n spesiale mens wat De Witt in haar kinderdae in Jansenville in die Karoo leer ken het. “My pa het soms vendusies gehou op dié dorp gehou en ek was van kleinsaf lief vir ou meubels. Die ou tannies se pragtige erfstukke het my bekoor. En al was die tannies enkellopend, was hulle altyd so tevrede, so vol stories.”

De Witt word volgende jaar 70, maar sy beskou haarself nie as ’n ‘ou tannie’ nie.

“Ek is nou in die gelukkigste tyd van my lewe. Vroue het nie soos kaas en wyn ’n vervaldatum nie; solank ons kan, gaan ons aan.”

Du Plessis sou vanjaar 92 geword het, en as hy in die gehoor moes sit, sou hy vir De Witt gesê het: “Dit is nooit te laat nie.”

O meno o pouse word in Augustus by verskeie teaters en kuierrestaurante in die Wes-Kaap opgevoer.

  • Kalfiefees (Hermanus): 7 Augustus om 12:00
  • Santos Express Train Lodge (Mosselbaai): 10 Augustus om18:30
  • The Drama Factory (Strand/Somerset-Wes-area): 13 Augustus om 18:00, 15 Augustus om 10:00, en 22 Augustus om 12:00
  • Die Koelkamers Teater (Paternoster): 30 Augustus om 11:00

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Yolanda Lemmer

Yolanda Lemmer has been a journalist for the past 20 years. She enjoys writing about people, culture, the arts, and human-interest stories that portray everyday South African life.
Back to top button