Drama-drama by Innibos

Maak seker jy kry jou kaartjies vir vanjaar se fees in Mbombela waar dramaproduksies weer van die boonste gehalte gaan wees.

Drama vier behoorlik die botoon by vanjaar se vars aanbieding van die Innibos Kunstefees wat vanaf 29 Junie tot 2 Julie in Mbombela Nelspruit plaasvind. Daar is van klassieke werke, tot ligte klugte en dié wat ’n senuwee raakboor maar ook laat lag.

Mirakel is ’n klassieke teks deur Reza de Wet, en die stewige rolverdeling sluit in Dawid Minnaar, Bettie Kemp, Rolanda Marais, Edwin van der Walt, Carla Smith en Eben Genis. Die bekroonde teaterman, Marthinus Basson, behartig die regie.

Frank Opperman, akteur, en Dana Snyman, skrywer, het nou al bewys hulle kán drama skep wat soms tot op die been sny, maar ook altyd laat lag. De Klerk Oelofse staan in die skoene van regisseur van Reünie, en almal wat al op ’n skoolreünie was of gaan wees, sal die maters en swerkaters herken.

Sandra Prinsloo is eindelik in die Laeveld te siene in Kamphoer – die verhaal van Susan Nell nadat die teaterstuk reeds landwyd getoer het. Dié kragtige drama oor ’n vrou se ontberinge in ’n konsentrasiekamp tydens die Anglo-Boereoorlog is tydloos en het talle toekennings ingeryg na vyfster-resensies en uitverkoopte vertonings. Dit is bekroon met ʼn kykNET Fiësta-toekenning en ʼn Naledi-prys vir die beste spel in ʼn solovertoning.

Marion Holm, Margit Meyer-Rödenbeck, Ilne Fourie en Neels Coetzee is in Laerskool Noord, ’n komedie oor ’n skool met die leuse “Kyk noord en stoot voort”.

Hier is die personeelkamer egter ’n tikkende tydbom tussen die uiteenlopende onnies, en die vraag is of die skoolhoof ooit sy afskeid gaan kry?

Die klug My vrou se man se vrou het in Engeland as Run for your Wife een van die langste speeltye aan die West End. Frans Swart se jarelange ervaring en ’n span jong akteurs gee vanjaar nuwe giggelglans aan die stuk. En wie ken nie teen die tyd die dwarstrekker Hans wat sake in die ouetehuis so kan omroer nie? Skrywer Rudie van Rensburg se gewilde karakter oom Hans is terug in Hans steek die Rubicon oor en Hans gee Herklaas horings. Met Charlie Bouguenon as oom Hans.

Magda Louw klim van die kassie af tot op die verhoog vir die gelyknamige verhoogstuk. Desire Gardner vertolk die soms moeilike Magda met hope deernis.

Moet ook nie Lizz Meiring se eenvroustuk Van die rak af misloop nie. Al gehoor van die human library in Skandinawië waar ’n mens in die plek van ʼn boek as’t ware uitgeneem word? Die stuk is daarop gebaseer, met ʼn interaktiewe element. Voor die aanvang van die vertoning ontvang die gehoor ʼn stembriefie met kriptiese leidrade. Dan kies die gehoor self watter van hierdie karakters hulle wil “uitneem” vir dié spesifieke opvoering.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button