Egpaar op Gauteng-plaas aangeval terwyl hulle swartwitpense voer

Die egpaar se voertuig is later by hul huis, met die enjin wat nog luier, gevind.

’n Egpaar, wat apart van mekaar aangehou met beide wat gevrees het dat die ander een gyselaar gehou word nadat hulle op 14 April deur vier rowers op hul plaas in die Doornfontein omgewing naby Carletonville oorval is.

Gustav (65) en Gerda Janse van Rensburg was verlede Sondag omstreeks 15:00 besig om op hul widlsplaas Skilderkrans hul swartwitpense te voer.

Gustav is deur iemand van agter oor die kop geslaan toe hy na die plaashuis se badkamer toe is. Toe hy bykom, het hy in die loop van ‘n pistol vasgekyk.

Drie mans met klapmusse aan het hom gegryp en geld geeïs. Gerda is elders op die plaas aangehou.

Rowers het die egpaar se selfone en trouringe gevat en hulle aangerand.

“My ring was vandat ons op die 5de Februarie 1983 getroud is, nog nooit van my vinger af nie. Toe ek dit nie vinnig genoeg kon afkry nie het hulle my gedeig dat hulle my vinger gaan afskiet. Ek kon dit toe darem loskry,” het Gustav vertel.

Al wat hy tydens die voorval van sy vrou gehoor het, was toe sy geskree het dat die rowers haar seer maak.

Uit vrees dat hulle sy vrou gyselaar hou, het Gustav vir die rowers aanwysings na die egpaar se huis in Fochville, sowel as waar die kluis in die huis is, gegee.

Die rowers is hierna in die egpaar se wit Nissan Navarra van die toneel af weg.

Gustav, wie se hande en voete vasgebind was, kon daarin slaag om homself los te sny nadat hy aanhoudend teen die kas waarlangs hy gelê het, gestamp het tot ‘n gereedskapstuk wat hy kon gebruik daarvan afgeval het.

Hy het oor die plaas en die buurplaas, in die rigting van die Deelkraal-pad gehardloop. ‘n Groep mans in ‘n wit VW Golf het gestop en vir hom ‘n selfoon gegee om vir hulp te bel.

“Die een man moes eers geld op die foon laai voor ek met dit kon bel. Ek sal hul altyd dankbaar wees. Ek het in die middel van die pad gestaan en daar is seker eers vier ander karre by my verby voor hulle gestop het,” vertel hy.

Gustav het ‘n familielid gebel en, aangesien hy gedink het dat die rowers Gerda by hulle gehad het, dadelik gevra dat die polisie en ander hulp na hul huis in Fochville haas om die rowers te probeer keer.

Die egpaar se Nissan is in die huis se motorhuis gevind. Die enjin het steeds geluier en daar word vermoed dat die erf se alarm afgegaan en die rowers gevlug het. Daar was geen teken van Gerda nie.

Gustav kon gelukkig vinnig mediese hulp kry vir die wonde wat hy tydens die aanval opgedoen het.

Intussen was Gerda steeds op die plaas en het op haar beurt gedink dat die rowers met haar man daar weg is.

Sy het aanvanklik baie gesukkel om los te kom waar sy by watertenks op die plaas vasgebind was.

“Ek het aangehou om tot die Here te roep. Skielik was die drade wat eers só styf was, nie meer so styf nie en kon ek my hande loskry,” vertel Gerda.

Sy kon haarself tot by die plaashuis kry en het eers uitgegaan toe familie opgedaag het om na haar te soek.

Beeldmateriaal van sekuriteitskameras in die omgewing van die egpaar se huis het gewys hoe die vier verdagtes te voet in die rigting van die rivier gevlug het. Hulle het ook vermoedelik Gustav se iPhone in die rivier gegooi omdat die sein net tot daar gevolg kon word.

Die polisie, lede van die GPF, sekuriteitsmaatskappye en verskeie ander lede van die Fochville-gemeenskap het tydens die voorval gehelp.

Die rowers is steeds op vrye voet.

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button