Geliefdes uit Kaap omring Derick Hougaard in Pretoria-hospitaal

Familielede van Hougaard het vroeër vandeesweek in Pretoria aangekom om tyd saam met hom in die hospitaal te spandeer.

“Nieteenstaande ’n bitterlik siek Derick”, was daar wel vordering met die 40-jarige voormalige Springbok-rugbyspeler se herstel op Maandag, 19 Junie.

Dit volgens sy vriendin en sangeres, Nádine, se Facebook-status.

Op Dinsdag, 20 Junie, het Derick Hougaard reeds vir tien dae in ’n koma in die Steve Biko Akademiese Hospitaal in Pretoria gelê.

’n Verteenwoordiger van Nádine se kantoor het bevestig dat Hougaard gisteraand nog bewusteloos was en steeds nie wakker is nie.

“Ons is so dankbaar en ek Eer ons Vader daarvoor!” skryf Nádine op Facebook.

Hougaard se ma, Riana en sy suster, Anneri Laing, het gister van Kaapstad in Pretoria aangekom en het gister twee ure by hom deurgebring.

<yoastmark class=

Die 63-jarige Riana Hougaard skryf op haar Facebook-profiel dat sy en haar eggenoot Bontes al die gebede vir hul seun waardeer.

Riana moedig haar seun aan om aan te hou baklei om aan die lewe te bly “want die eindfluitjie het nog nie geblaas nie”. Sy herinner hom ook aan sy woorde dat hy nog “die wenskop van die lewe moet oorskop”.

Beterskapwense stroom intussen in vir die rugbylegende. Willem Strauss, die president van die Blou Bulle Rugbyunie, se dat die unie vir hul voormalige kampioenspeler en sy gesin bid en hom spoedige beterskap toewens.

“Ons almal het net goeie herinneringe van Hougaard op die rugbyveld en wil ons voortgesette steun vir die Liefling van Loftus uitspreek.”

Herrie bars los op sosiale media

Intussen het ’n herrie losgebars op sosiale media met Nádine en diamanthandelaar Louis Liebenberg, van die voorlopig gelikwideerde Forever Diamonds and Gold, wat oor en weer beskuldigings na mekaar slinger.

Nádine het in ’n Facebook-status Liebenberg van teistering by die hospitaal beskuldig. Hy wou klaarblyklik toegang teen hospitaalprotokolle tot Hougaard se intensiewe eenheidsaal bekom.

Liebenberg het in ’n onderhoud met Rekord bevestig hy “wou toesien dat Hougaard die beste mediese behandeling ontvang en na ’n privaat mediese instelling skuif”.

Hy beweer dat hy wel sedert hy die speler verlede jaar op 23 Junie ontmoet het, finansieel ondersteun het en steeds ’n verantwoordelikheid vir sy welstand voel.

“Derick is ’n fynbesnaarde mens met ’n pragtige siel en mens stap nie sommer van so iemand weg nie.”

Liebenberg beweer dat hy wel toestemming gehad het van die suster aan diens by die Steve Biko Akademiese Hospitaal om Hougaard te besoek Sondag.

Hy sê dat hy en sy vrou, Dezzi, wel ’n foto van Derick in sy hospitaalbed as nodig beskou het om te verseker dat Hougaard se aanhangers kan sien hoe hy onder die hospitaalomstandighede lyk.

Op aandrang van Bontes Hougaard, Derick se pa, is die foto van sosiale media verwyder. Die Hougaard-egpaar het ook uit die staanspoor enige aanbiedinge om hul seun te besoek in Pretoria by wyse van ’n borgskap deur Liebenberg, van die hand gewys.

Hougaard se tyd saam met die Bulle, Springbokke

Bekend as die Liefling van Loftus het Hougaard 100 wedstryde vir die Bulle gespeel tussen 2002 en 2008. Hy het ook agt keer die Groen en Goud-trui oor sy kop getrek.

Nou lê die rugbylegende egter aan ’n ventilator gekoppel en is in ‘n kritieke toestand as gevolg van inflammasie in sy longe. Hougaard is op die 10e Junie deur Nádine bewusteloos in sy huis aangetref.

Hougaard en Nádine is al vyf jaar lank saam. Volgens ’n bron naby aan die sangeres is Nádine positief oor die moontlikheid dat hy weer gesond sal word.

Die sangeres is wel volgens die bron daarop ingestel om haar nie negatief te laat beïnvloed deur die sosiale media-berigte van Louis Liebenberg rondom Hougaard se behandeling in die Steve Biko Akademiese Hospitaal nie.

“Sy wil net die beste vir hom hê. Vir haar gaan dit net om Derick.”

Kommentaar is aangevra by die Openbare Skakelafdeling van die Steve Biko Akademiese Hospitaal en word tans afgewag.

Read original story on rekord.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Andrea van Wyk

Caxton’s Digital Editorial Manager. I am a journalist and editor with experience spanning over a decade having worked for major local and national news publications across the country and as a correspondent in the Netherlands. I write about most topics with a special interest in politics, crime, human interest and conservation.
Back to top button