Gevaarpad in Vaal eis jong man se lewe, 5 dae na sy terugkeer uit VSA
Jannes Grundling is dood in ‘n trompop botsing met ‘n polisievoertuig op ‘n stuk pad waar daar al talle noodlottige ongelukke plaasgevind het.
‘n Ouerpaar se vreugde om hul seun weer te sien nadat hy sedert April in Amerika gewerk het, het verander in verdriet toe hy vyf dae na sy aankoms in Suid-Afrika in ‘n padongeluk gesterf het.
Jannes Grundling (28) het 15 Desember, omstreeks 22:00 op die Stokkiesdraaipad (Ravel Road) naby die Vaalrivier in ‘n trompop botsing teen ‘n polisievoertuig omgekom.
Jannes se ouers, Uys en Amanda Grundling van Sasolburg, het hom Dinsdagaand, 10 Desember, by die lughawe gaan haal nadat hy die afgelope agt maande op ‘n beesplaas in Nebraska gewerk het. Hy sou die feestyd saam met sy ouers en ander familielede deurbring voordat hy vroeg in 2025 na Nebraska sou teruggaan.
Grundling het die dag van sy ongeluk saam met sy niggie en haar man (Ginie en Tiaan van der Merwe) spandeer en later by en Ginie se skoonouers, Preller en Louise van der Merwe op die Vaal View-hoewes gaan braai en swem. Hy het terug 21:45 na sy ouerhuis in Sasolburg vertrek.
Hy was nog op die reguit gedeelte van die pad, net voor hy in die draai sou ingaan, toe ‘n polisievangwa van Vanderbijlpark se kant af uit die draai gekom en die twee voertuie mekaar tromp-op getref het. Die pad se middellyn is baie dof in dié gebied en nie sigbaar in die nag nie.
Vaalweekblad het voorheen al berig oor die hoë aantal ongelukke op dié pad. Buiten dat dit snags baie donker in die gebied is, het die pad onvoldoende sperstrepe, en talle slaggate dra verder by tot die gevaar.
“Outsurance het my man die aand geskakel en ingelig dat my voertuig, ‘n Toyota Etios, in ‘n ongeluk betrokke was. ‘n Werknemer van ‘n insleepdiens het ons daarna geskakel en versoek om onmiddellik na die ongelukstoneel te gaan.
“Daar, in die maanlig en tussen baie rooi ligte, het ons die hartverskeurende nuus ontvang,” sê Amanda.
Grundling se gedenkdiens is Vrydag by die NG Gemeente Fontein in Sasolburg gehou. Sy ouers beplan om hom op hul familieplaas buite Oudtshoorn ter ruste te lê.
Hy word buiten sy ouers ook oorleef deur sy tweelingsusters en swaers, Janke en Daniël Claassen en Anne en Burger van Rooyen, almal van Stellenbosch.
* Jannes is op 18 September 1996 gebore en het aan die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg gematrikuleer, waarna hy in Voorsieningskettingbestuur (Supply Chain Management) studeer het. Hy het ‘n paar jaar in dié rigting in die Kaapstad-omgewing gewerk, maar gehunker daarna om in die natuur te wees en met diere te werk, eerder as om heeldag voor ‘n rekenaar te sit.
Sy droom het waar geword toe hy werk op ‘n Angus-beesstoetplaas in Nebraska gekry het. “Hy het baie hard gewerk, maar nooit daaroor gekla nie,” sê sy ma.
“Ons sal vir Jannes onthou vir sy lewenslus en avontuurlus. Hy het ‘n uitgebreide reis in Suid-Afrika beplan om by al sy vriende uit te kom voordat hy op 1 Februarie 2025 sou teruggaan vir ‘n kontrak by ‘n boormaatskappy in Nebraska. Hy was ‘n lojale vriend en het al sy vriende betrek in sy lewe.
“Ons gesin van sewe het bespreek om vanaf 28 Desember saam vakansie te gaan hou in die Kaapprovinsie. Nou gaan dit gebeur sonder ons kosbare seun,” sê Amanda.
Read original story on www.citizen.co.za