Gevaarpad in Vaal eis Jannes se lewe, 5 dae na sy terugkeer uit VSA
Jannes se gedenkdiens is Vrydag by die NG Gemeente Fontein in Sasolburg gehou. Sy ouers beplan om hom op hul familieplaas buite Oudtshoorn te ruste te lê.
SASOLBURG. – ‘n Ouerpaar se vreugde om hul seun weer te sien nadat hy sedert April in Amerika gewerk het, het verander in verdriet toe hy vyf dae na sy aankoms in Suid-Afrika in ‘n padongeluk gesterf het.
Jannes Grundling (28) het Sondagaand, 15 Desember, omstreeks 22:00 op die Stokkiesdraaipad (Ravel Road) in ‘n tromp-op botsing teen ‘n polisievoertuig omgekom. Vaalweekblad het al dikwels berig oor die hoë voorkoms van ongelukke op dié pad. Buiten dat dit snags baie donker in die gebied is, het die pad onvoldoende sperstrepe, en talle slaggate dra verder by tot die gevaar.
Jannes se ouers, Uys en Amanda Grundling van Sasolburg, het Jannes Dinsdagaand, 10 Desember, by die lughawe gaan haal nadat hy die afgelope agt maande op ‘n beesplaas in Nebraska gewerk het. Hy sou die Feestyd saam met sy ouers en ander familielede deurbring voordat hy vroeg in 2025 na Nebraska sou teruggaan.
Jannes het die dag van sy ongeluk saam met sy niggie en haar man (Ginie en Tiaan van der Merwe) se familie, padel by die Emfuleni Gholfklub gaan speel. Hulle is daarna na Ginie se skoonouers, Preller en Louise van der Merwe op die Vaal View-hoewes, waar hulle gebraai en in die Vaalrivier geswem het. Jannes en ‘n familielid het die aand twee potte skaak gespeel voordat hy omstreeks 21:45 na sy ouerhuis in Sasolburg vertrek het.
Hy was nog op die reguit gedeelte van die pad, net voor hy in die draai sou ingaan, toe ‘n polisievangwa van Vanderbijlpark se kant af uit die draai gekom en die twee voertuie mekaar tromp-op getref het. Die pad se middellyn is baie dof in dié gebied en nie sigbaar in die nag nie.
“Outsurance het my man die aand geskakel en ingelig dat my voertuig, ‘n Toyota Etios, in ‘n ongeluk betrokke was. ‘n Werknemer van ‘n insleepdiens het ons daarna geskakel en versoek om onmiddellik na die ongelukstoneel te gaan. Daar, in die maanlig en tussen baie rooi ligte, het ons die hartverskeurende nuus ontvang,” sê Amanda. Te midde van hul hartseer bedank hulle Vaal Response Unit se vrywillige personeel vir hul goeie diens en ondersteuning op die ongelukstoneel, tot 03:00 die oggend.
Jannes se gedenkdiens is Vrydag by die NG Gemeente Fontein in Sasolburg gehou. Sy ouers beplan om hom op hul familieplaas buite Oudtshoorn ter ruste te lê. Hy word buiten sy ouers ook oorleef deur sy tweelingsusters en swaers, Janke en Daniël Claassen en Anne en Burger van Rooyen, almal van Stellenbosch.
* Jannes is op 18 September 1996 gebore en het aan die Afrikaanse Hoërskool Sasolburg gematrikuleer, waarna hy in Voorsieningskettingbestuur (Supply Chain Management) studeer het. Hy het ‘n paar jaar in dié rigting in die Kaapstad-omgewing gewerk, maar gehunker daarna om in die natuur te wees en met diere te werk, eerder as om heeldag voor ‘n rekenaar te sit. Sy droom het waar geword toe hy werk op ‘n Angus-beesstoetplaas in Nebraska gekry het. “Hulle het baie hard daar gewerk, maar nooit daaroor gekla nie,” sê sy ma.
“Ons sal vir Jannes onthou vir sy lewenslus en avontuurlus. Hy het ‘n uitgebreide reis in Suid-Afrika beplan om by al sy vriende uit te kom voordat hy op 1 Februarie 2025 sou teruggaan vir ‘n kontrak by ‘n boormaatskappy in Nebraska. Hy was ‘n lojale vriend en het al sy vriende betrek in sy lewe.
“Sy susters, Janke en Anne, gaan dit mis om sy harde stem te hoor… “Hallo Schwester!”… saam met ‘n stywe omhelsing wat jou voete van die grond af lig. Jannes het met ‘n lied in sy hart geleef en gehou van mense om hom. Om tyd te spandeer met bejaardes of kinders was vir hom ‘n plesier. Hy was ‘n vriendelike mens met byna altyd ‘n glimlag op sy gesig. Hy was nederig en vrygewig, met ‘n sagte hart en ‘n sterk lyf. Hy kon gaan stilstaan by die kleinste veldblom en sê ‘Dankie Here’.
“Ons gesin van sewe het bespreek om vanaf 28 Desember saam vakansie te gaan hou in die Kaapprovinsie. Nou gaan dit gebeur sonder ons kosbare seun,” sê Amanda. Maar in hul harte en gedagtes neem hulle Jannes ongetwyfeld saam.


