Local newsNews

Nog 2 sterf op selfde gevaarlike pad as geliefde ‘Juf Dez’

Die gevaarlike Ravelstraat buite Vanderbilpark het Sondagaand nog twee lewens geëis

 

Talle mense het die afgelope jare hul lewe verloor of is ernstig beseer in ongelukke in Ravelstraat, Vanderbijlpark. Dié pad met sy verskeie draaie en kinkels is in die landelike omgewing van Stokkiesdraai naby die Vaalrivier. Dit is veral snags baie gevaarlik omdat dit so donker in die gebied is.

Een van die opspraakwekkendste ongelukke van die afgelope jare het op 1 Mei 2021 hier plaasgevind, toe me. Dezere Lawrenson (23), ‘n geliefde onderwyseres van die Hoërskool Dr. Malan (Meyerton), na ‘n botsing hier gesterf het. “Juffrou Dez” se Volkswagen Polo was die aand omstreeks middernag in ‘n botsing teen ‘n Toyota RAV4 op die Stokkiesdraai-pad betrokke. Die twee insittendes van die Toyota is beseer en hospitaal toe geneem, maar het gelukkig oorleef.

‘n Bekende sakeman van die Vaaldriehoek, mnr. Kobus Pienaar, ry die pad gereeld en verwoord sy kommer oor die gereelde ongelukke in hierdie brief:

Alweer ‘n noodlottige ongeluk….
Die uiters gevaarlike Ravel Road (Saspark/Ocumed-pad wat doodloop in die Parys/Vereeniging pad naby Loch Vaal), het Sondagaand, 15 Desember 2024, weer ‘n noodlottige ongeluk beleef.
Wat vir my verstommend is, is dat by feitlik elke blinde draai op die pad, sperstrepe ontbreek. Daar is baie meer blinde draaie sonder sperstrepe as met sperstrepe.

Die polisie van Loch Vaal gebruik daagliks die pad en moet feitlik weekliks ongelukke ondersoek, maar in die laaste 25 jaar het die staat sy plig versuim. Die pad benodig dringend ‘n nuwe teerblad en sperstrepe. Kan die polisie dit asseblief aan die betrokke regeringsdepartement rapporteer sodat dit opgevolg kan word met aksie?

‘n Paar jaar gelede is ‘n graad 1-seuntjie op sy eerste skooldag, op pad huis toe, by Oscars langs die pad doodgery – ‘n uiters gevaarlike gedeelte (sonder sperstrepe) waar baie verkeer in en uit beweeg.
Kop-teen-kop botsings by die blinde draaie is aan die orde van die dag. Motorfietsryers wat nie die pad ken nie en nie bewus is van die afwesigheid van sperstrepe nie, het hulle al te pletter geval op die pad. Sperstrepe ontbreek by die Kaalplaats-afdraai, by die Vaalview-afdraai, by Oscars en nog ‘n paar ander blinde draaie nader aan die dorp. Die baie gevaarlike slaggate dra verder by tot die uiters hoë ongeluksyfer.

Verkeerspolisie word nooit op die pad gewaar nie, behalwe tussen Kompasgemeente en Saspark se vierrigting-stop, maar nooit nêrens op Ravel Road nie.
Ek het die afgelope jaar nog net twee keer verkeerspolisie op die gedeelte gesien, maar op die res van die gevaarlike pad, nog nooit nie.
Die betrokke regeringsdepartement moet deeglik kennis dra van hierdie berig, dit kan as bewys teen hulle gebruik word. – Skrywer: Kobus Pienaar.

Wyle me. Dezere Lawrenson, destyds ‘n onderwyseres van die Hoërskool Dr. Malan, het in 2021 ook na ‘n botsing op dié pad beswyk.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Vaalweekblad in Google News and Top Stories.

Retha Fitchat

Retha Fitchat is an experienced part time journalist for Vaalweekblad. WhatsApp: 083 246 0523
Back to top button