GPF-lid sterf ná voertuig haar tref tydens Vanderbijlpark-padblokkade

Die Vaaldriehoek-gemeenskap beplan vanaand ’n konvooi en kranslegging ter nagedagtenis aan Dalena Willeboordse wat dood is terwyl sy besig was om te help by 'n padblokkade.

’n Tragedie het die Vaaldriehoek se veiligheidsgeledere geruk nadat ’n lid van die plaaslike Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) gisteraand (6 Julie) op die R42 (Barrageweg) doodgery is. Die voorval het plaasgevind tydens ’n polisie-operasie in die gebied.

Die voorval het tydens die polisie se Operasie Shanela plaasgevind, in ’n gedeelte van Barrageweg wat bekend is vir sy verskeie motorhandelaars, berig Vaalweekblad.

Die oorledene is geïdentifiseer as Dalena Willeboordse (53), wat onder haar radio-roepsein ‘A Angel DW1’ bekend was.

’n GPF-lid wat op die toneel was en anoniem wil bly, het die oomblik van die botsing beskryf: “Ons was besig om die padblokkade af te slaan toe ’n bestuurder in een van ons lede en ook ’n polisievoertuig ingejaag het. Dit was skokkend om te aanskou; ons het die hele voorval gesien.”

Vaalweekblad verneem die betrokke bestuurder is onmiddellik na die voorval in hegtenis geneem. Bewerings dat hy moontlik onder die invloed van alkohol was, word tans ondersoek. Die polisie het teen publikasietyd egter nog nie amptelike besonderhede bekend gemaak nie.

Haar skielike dood het skokgolwe deur die gemeenskap gestuur, waar sy onthou word vir haar jarelange diens en passie vir gemeenskapsveiligheid.

Lede van die polisie en die GPF kom vandag om 18:00 byeen vir ’n parade. Daarna sal hulle in ’n konvooi na die toneel vertrek vir ’n spesiale kranslegging-seremonie ter nagedagtenis aan hul kollega.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Christiaan Cloete

Christiaan is editor of Ster North and a reporter for Vaalweekblad. Email: christiaan@mooivaal.co.za
Back to top button