Graaff-Reinet gedenkplate deur misdadigers geteiken
Daar word nou oorweeg om plastiek namaakels teen die muur op te sit en die oorspronklike plate te bewaar.
Graaff-Reinet het ‘n baie ryk geskiedkundige erfenis. Dit is die vierde oudste dorp in Suid-Afrika en die tuiste van 220 erfenisterreine, meer as enige ander dorp in die land.Om die erfenisskatte een diefstal te probeer is ‘n groot uitdaging.
Die Graaff-Reinet Heritage Society het onlangs kommer uitgespreek oor die feit dat al meer van die erfenis-gedenkplate wat op die erfenisgeboue voorkom deesdae afgesteel word.
Die gedenkplate van beide die ou apteek in Caledonstraat en die St James Anglican Church in Somersetstraat is reeds afgesteel en dit het groot, lelike gate agtergelaat wat opgevul moes word.
Volgens dr. Mark Marais, prediker van die St James Anglican Church, was die gedenkplaat wat dat daar afgesteel is, uitgereik deur die voormalige Nasionale Monumentraad wat nou die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbron-agentskap is. Hy noem dat hy in kontak is met ‘n amptenaar in Kaapstad wat hom na die Oos-Kaapse kantoor verwys het.
“Historiese geboue, soos kerke, is nou deel van provinsiale erfenis en daarom sal ‘n vervangingsplaat dit weerspieël,” sê Marais.
Volgens Anziske Kayster, bestuurder van die Graaff-Reinet-museum is twee van die museum se nasionale gedenkplate ook gesteel. Gelukkig kon hulle albei hierdie gedenkplate weer aanbring, een is teruggevind en die ander een is aan hulle geskenk uit ‘n privaat versameling.
“Hierdie gedenkplate is van brons gemaak en baie aantreklik vir misdadigers,” sê Kayster.
Sy noem dat hulle selfs die klein plaasimplemente uit die museumtuin moes verwyder om dit teen misdadigers te beskerm.
“Ongelukkig is daar ‘n mark vir metaal, maar dat diegene wat die gedenkplate koop, ‘n mark daarvoor skep, gaan my verstand te bowe.”
Sy glo dat die probleem vererger word deurdat daar nie teen die stelers en die kopers opgetree word nie.
“Dit is ‘n kriminele oortreding om die gedenkplate te steel en te verkoop omdat dit neerkom op vandalisme van nasionale erfenis,” waarsku sy.
Die Suid-Afrikaanse Erfenishulpbron-agentskap oorweeg tans alternatiewe om die gedenkplate mee te vervang. Die alternatiewe het geen finansiële waarde nie en is dus glad nie aantreklik vir misdadigers nie.
Volgens Garth Hitge van die Graaff-Reinet Heritage Society het die diefstal destyds begin met die gedenkplate wat buite die dokters se spreekkamers was.
Die gedenkplate is toe vervang met plastiek imitasies van die brons gedenkplate.
“Dit is dus een van die opsies wat oorweeg kan word om Graaff-Reinet se erfenis te beskerm,” sê Hitge.
Read original story on www.graaffreinetadvertiser.com