Híér is waar feesgangers by Innibos behoorlik kan vashaak

Die Mopani Wingerd Kuiertuin is 'n plek waar die geur van vars koffie, klinkende wynglase en die warmte van egte Suid-Afrikaanse gasvryheid saamvloei.

Die Mopani Wingerd Kuiertuin is nie sommer net nóg ’n deurloop-area op die feesterrein van Toyota Innibos 2026 nie. Dit is ’n bestemming op sy eie. ’n Rustiger area waar jy kan ontspan, kuier, proe, luister en behoorlik vashaak.

Onder die koelte van bome en tussen die nostalgiese atmosfeer van die ou Kunspark, wag ’n ervaring wat elke sintuig prikkel. Hier stap jy stadig. Hier kuier jy langer. Hier ontdek jy stories.

Volgens Alison Linde, die stalletjie bestuurder van Toyota Innibos, is die Wingerd Kuiertuin spesiaal saamgestel vir die fynproewer. “Mense wat hou van goeie wyn, unieke smake, mooi kuns, inspirerende gesprekke en daardie onbeskryflike ‘lekker vibe‘ wat net Innibos kan skep.”

Met Spier, Lisa Whitehouse, en Hermanuspietersfontein-wyne aan boord, onder leiding van plaaslike wynkenner Toiné Schoeman, word wynproe ’n ervaring op sy eie. Sit terug met ’n glas wyn in die hand, luister na sagte musiek op die Mopani-verhoog en laat die fees se ritme jou meevoer.

Méér as net wyn

En as daar een ding is wat die Wingerd Kuiertuin besonders maak, is dit die ongelooflike verskeidenheid geure en produkte wat hier bymekaarkom. Epa! bring weer hul veelbekroonde vars, ongekookte souse en pestos na die fees, saam met die legendariese Epa! Avo wat oor die jare ’n absolute Innibos-gunsteling geword het. Vars, veganisties, glutenvry en handgemaak met plaaslike bestanddele, weerspieël Epa! alles waarvoor die Wingerd Kuiertuin staan: Kwaliteit, kreatiwiteit en ’n leefstyl van goeie smaak.

Vir kaasliefhebbers wag Kaaskop met ’n keur van bekroonde Suid-Afrikaanse én internasionale kase, perfek saamgestel vir rustige kuier-oomblikke saam met vriende en familie. En dan is daar natuurlik Doppio Zero se varsgebakte artisan-brode, croissants, terte en beroemde kaaskoeke, en die geur van koffie wat jou daar sal wil hou. BosBul-Tong gaan daar wees met hoë-gehalte biltong, droëwors, chilli bites en cabanossi, daardie eg Suid-Afrikaanse smake wat eenvoudig by enige fees hoort.

Fusion Sjef, Jan-Harm Pietersen, is gedryf deur sy nuuskierigheid om geure, smake en teksture te laat saamsmelt met ’n tikkie trooskos, dit vorm die kern van sy filosofie: “Moenie met jou kos speel nie.” Vergeet daarvan, gooi daardie idee by die venster uit en eksperimenteer!”

Selfs die avontuursoekers kry hul beurt. Die South African Gold Panning Association gaan besoekers wys hoe goudpanning werk, met geleenthede vir feesgangers om self hulle hand daaraan te waag. Reg uit die Pelgrimsrus omgewing bring hulle ’n stukkie ouwêreldse Laeveld-avontuur na die fees.

Vir natuurliefhebbers en tuin-entoesiaste gaan die Bonsai-vereniging, Concrete Creations en Likhutsa Nursery die Wingerd omskep in ’n visuele fees van groen, tekstuur en kreatiwiteit. Wandel rustig deur die tuinuitstallings en ontdek klein oases van inspirasie tussen die feestelikheid.

Die kuns- en vakmanskap-aspek van die Wingerd Kuiertuin is net so indrukwekkend. Oupoot, gebore uit ’n liefde vir die natuur en die herwinning van inheemse houtsoorte, bring eg Suid-Afrikaanse vakmanskap na die fees. Hulle visie strek verder as bloot produkte verkoop. Dit gaan oor die bemagtiging van ambagsmanne, die bewaring van tradisie en die skep van unieke meesterstukke wat die verhaal van ons land vertel.

Kuns, boeke en radio

Kunsliefhebbers kan ook uitsien na die werk van kunstenaars soos Pieter A. Pienaar, die Kalahari-kunstenaar wat vir die eerste keer by Innibos uitstal. Met sy uiteenlopende style, van abstrakte ekspressionisme tot collage en landskappe, bring hy kleurvolle stories en diep menslikheid na sy werk. Sy ervaring as kunsonderwyser in Suid-Afrika, Saoedi-Arabië en China gee aan sy kuns ’n unieke wêreldse perspektief.

Nog ’n besondere kreatiewe stem by die fees is Steve Strauss, die kunstenaar wie se werk geïnspireer is deur die skoonheid van sy moeder se tuin. Vanuit Schweizer-Reneke het hy ’n lewe geskep waar kuns, familie en natuur hand aan hand stap. Sy skilderye vang die vreugde, kleur en nostalgie van die lewe vas en weerspieël ’n diepe verbondenheid aan die eenvoud van mooi dinge.

Die kunstenaar INKA bring weer ’n meer intuïtiewe en emosionele aanslag na die Wingerd Kuiertuin. Haar werk, geïnspireer deur beweging, natuur en menslike emosie, ontstaan organies deur tekstuur, kleur en spontane kreatiewe proses. As selfgeleerde kunstenaar wat op ’n plaas in Mpumalanga woon en werk, speel die Afrika-landskap, veranderende seisoene en die mens se innerlike wêreld ’n groot rol in haar kuns. Met gelaagde oppervlaktes, collage-elemente en sterk teksture skep sy werke wat nie net gesien word nie, maar gevoel word, kuns wat die kyker uitnooi om werklik te kyk en betekenis in elke beweging en detail te ontdek.

Elke werk dra iets van sy hart en herinner mense daaraan dat kuns dikwels uit die mees persoonlike herinneringe gebore word. En dan is daar Salomé van Vessels Studio se lewendige waterverf-gasteportrette, vinnige, spontane kunswerke wat binne minute herinneringe omskep in iets tasbaar en kosbaar. Maak seker jy kry jou self-portret daar!

Die ATKV-Boeke-oase vorm ook deel van hierdie unieke ervaring en beloof om een van die mees geliefde kuierplekke by die fees te wees. Philna Scholtz, Programbestuurder, vertel dat feesgangers hier rustig kan ontspan, boeke koop, luister en gesels. Die ATKV-Boekgesprekke bring van Afrikaans se gewildste skrywers bymekaar, met gesprekke wat elke dag plaasvind. Onder die name tel Pieter Mulder, Mike Bolhuis, François Bloemhof en Jak de Priester, en dis net om ’n paar te noem.

RSG gaan boonop regstreeks vanuit die Boeke-oase uitsaai, wat nóg meer lewe en energie aan die ruimte gee. ’n Gerieflike sitarea word ingerig waar besoekers rustig kan sit en luister na die gesprekke, stories en onderhoude wat deur die dag plaasvind.

Van die sprankelende Lizz Meiring se Bingo op 2 Julie tot Jacques Lombard se daaglikse leefstyl-ervarings waar koffie, skemerkelkies, onthaal en styl saamvloei gebeur daar elke oomblik iets lekkers op die Mopani-verhoog. Met gaskunstenaars soos Marinda Engelbrecht, Wynand van Vollenstee, Thiart Li, Matie van Graan en Dené Lindeque-Fouché word elke dag ’n fees van smaak en inspirasie.

Musiekblyspelers soos Len Muller, Alouise, Thapelo Lekoane, Mathew Gold en Wanda Zonke sorg vir uitstekende vermaak, terwyl Ultracoustic Duo en Velvet Motion Duo met hulle veelsydige instrumentale talent gehore gaan betower.

Die Mopani Wingerd Kuiertuin is uiteindelik veel meer as net ’n feesarea. Dit is waar mense ontmoet, stories deel, geure ontdek en herinneringe maak. Dit is die plek waar jy dalk net vir ‘’n vinnige draai’ wou instap, maar ure later nog sit met ’n glas wyn, goeie musiek in die agtergrond en die gevoel dat jy presies is waar jy moet wees.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Inhoud verskaf

Die inhoud in hierdie berig is deur Innibos verskaf.
Back to top button