Innibos-feesterrein het al die regte bestanddele vir heeldag kuier

Innibos-feesgangers hoef nie te wag vir elke aand se superkonsert op die hoofverhoog nie, maar kan sommer vroegdag reeds lekker in die feesgees kom.

Die Innibos Kunstefees in Mbombela is van 27 tot 30 Junie vanjaar, en die feesterrein by Hoërskool Bergvlam open daagliks om 10:00.

Op die feesterrein is nie minder nie as drie kuierverhoë. Die Nashua-verhoog is reg oorkant die hoofverhoog, die kykNET-verhoog in die Bosmôl en laastens die verhoog in die Wingerd Kuiertuin. Sangers wat deur die loop van die fees op die kuierverhoë gaan optree, sluit in Coffee Snobs, Damian Beer, Janie Bay, Natascha C, Jan-Mattys en John Rock Prophet.

As jy lus het om kort en komiese toneelsketse te sien, is die Laevelder Boma-kuierteater die plek om te wees. Op die program is André die Skreeusnaakse Hipnotiseur wat jou sal laat skater van die lag. Trek sommer die waagmoedige skoene aan en wees ’n vrywillige deelnemer in dié vertoning om uit te vind wat jy bereid is om te doen onder hipnose.

André die Skreeusnaakse Hipnotiseur. Foto: Verskaf

Wynand van Vollenstee is te sien in die Die Begrafnisrede oor die uitdagings wanneer die tydelike met die ewige verwissel word. Dit is ’n ligte blik op ’n netelige lewenskwessie. Ewe komies is die ander eenmanproduksie Draf, Boela! Draf! deur Tiaan Slabbert. Hy is in die rol van Boela Botha van die Moot in Pretoria wat in ʼn polisie-ondervragingskamer beland ná ’n klein mistykie wat eindelik ’n hele gemeenskap saamsnoer.

Die eenmanproduksie Draf, Boela! Draf! deur Tiaan Slabbert. Foto: Verskaf

Dik Deurmekaar is komedie met skerpskerts gekruis deur Mel die Storieverteller van internet-faam, terwyl die akteursegpaar Esther von Waltsleben en Jan-Hendrik Opperman in Sewe Sakke Sout die konsternasies en blapse van 20 jaar se getroude lewe deel.

Mel die Storieverteller: Foto: Verskaf

Wees ook elke dag by die Laevelder Boma-kuierteater wanneer Francois Jacobs gesels met bekendes soos die rugbyman Hammie Wessels, akteurs van Binnelanders, en Brendan Peyper, wat dalk net ’n paar geheime gaan verklap oor die onlangse Op my eish!

Francois Jacobs. Foto: Verskaf

Om die Innibos-feesterrein te geniet met kleingoed kan soms uitdagend wees, maar met die propvol program van 11:00 tot 17:00 daagliks by die SPAR Woelwaters (in die skoolsaal) kan jy vir seker weet hulle word ook op ’n gepaste manier vermaak.

Daar is onder meer die Fliep-Flappers (opvoedkundige kindertoneel), Kok en die lawwe rot, Miemsie en die vervlakste leeu, Ronnie die Renoster, ATKV-Storietyd, Spar Kolwyntjiepret, en speeltyd saam met FUN GALORE.

Die Fliep-Flappers. Foto: Verskaf

Vir die kleinspan wat ingeteken is, is daar middagete, wat moontlik gemaak word deur SPAR en SUNBAKE. Daar is ook ’n aand-oppasdiens. Bekwame personeel sien na die kleintjies om teen ’n billike tarief.

Vanjaar is daar ook ’n spesiale doekomruilstasie by SPAR Woelwaters wat geborg word deur SPAR Little Munchkins so jy hoef nie tussen ’n klomp vreemdelinge en op ’n ongemaklike plek te sukkel nie. By die doekomruilstasie is daar produkte van Little Munchkins wat jy gerus kan gebruik, asook ’n gemakstoel vir wanneer baba gevoed moet word.

Hou ook ’n oog oop vir die flambojante buskers wat weer vanjaar oral op die Innibos-feesterrein te sien sal wees. Van steltlopers tot reusagtige poppe wat uit die bloute verskyn, gaan jou lekker verras en die mond laat oophang vir The Psychedelic Theatre-geselskap se akteurs.

Die volledige Innibos-program is by innibos.co.za.

Read original story on www.citizen.co.za

Back to top button