Innibos is klassiek in die Krugerwildtuin

’n Klassieke musiekkonsert met die doel om geld in te samel vir natuurbewaring in die wildtuin, word naby die Numbi-hek gehou.

Die Innibos Kunstefees en die Ereveldwagters van SANParke se Laeveld-streek bied vir die tweede jaar gesamentlik ’n klassieke musiekkonsert aan om fondse vir natuurbewaring in die wildtuin in te samel.

Die konsert Classics in the Wild word op Vrydag en Saterdag, 7 en 8 Junie, by die Mdluli Safari Lodge naby die Numbi-hek gehou. Verlede jaar is kaartjies vir die optrede van die Schonnbrünn-ensemble in Skukuza blitsig opgeraap en kon ’n stewige geldelike bydrae tot die ereveldwagters se fondse vir bewaringswerk in die Krugerwildtuin gemaak word.

Vanjaar tree die Apple Green Orkes onder leiding van Tim Roberts op. Roberts is direkteur van die Johannesburg Bach-koor, ’n bekende dirigent, die artistieke direkteur van die St Francis Musiekfees wat jaarliks in Parktown, Johannesburg, gehou word en lid van die Phoenix Ensemble onder leiding van Richard Cock. Cock is medesamesteller van die program in die wildtuin.

Sinesipho Mnyango, ’n jong sopraan wat besig is om opgang te maak en ook reeds saam met Cock opgetree het, is die solis.

Werke van Strauss, Mozart, Bach, Puccini en Brahms is op die musiekspyskaart, asook dié van moderne komponiste Elton John, Gershwin en selfs Abba.

“Dit is vir Innibos heerlik om betrokke by dié fondsinsameling te wees en met die beplanning by te staan. Die Krugerwildtuin is werklik ’n toeristemekka, maar die belangrikste is die bewaringswerk wat nie altyd aan die groot klok gehang word nie en waartoe die Laeveld-streek se ereveldwagters ’n reusebydrae lewer,” sê Sandra Jacobs, die media- en bemarkingsbestuurder van Innibos.

Graeme Cole, die streekshoof van FNB se kommersiële bankwese, sê as hoofborg van die konsert is dit vir die bank belangrik om aktief betrokke by omgewingsbewaring te wees en die vrywillige werk van die ereveldwagters te ondersteun.

Ford Nelspruit en Malalane wat ook ‘n mede-borg is, is eweneens trots om deel van hierdie inisiatief te wees.

Wat jy moet weet:

  • Kaartjies kos R1 150 per persoon en sluit ’n verwelkomingsdrankie en peuselhappies in. Daar is ook ’n kontantkroeg.
  • ’n Pendeldiens is vanuit Mbombela teen R150 per persoon beskikbaar, en is gratis van Skukuza en Pretoriuskop na Mdluli Safari Lodge.
  • Konsertgangers wat in die Krugerwildtuin slaap sal nie van hul eie vervoer gebruik kan maak nie.
  • Akkommodasie is beskikbaar in onder meer Skukuza, Pretoriuskop, Nkambeni Safari Lodge en verskeie lodges omliggend aan die Kruger.
  • Inwoners van Mbombela en Witrivier kan natuurlik van die pendeldiens gebruik maak.
  • Kaartjies is by Quicket beskikbaar.

Read original story on www.citizen.co.za

 
Back to top button