Innibos Kunstefees het ’n wenresep vir 2024

'n Feesprogram propvol hoë-gehalte vermaak wag vir feesgangers by dié jaar se Innibos. Lees meer hier.

Innibos Kunstefees bied vanjaar opnuut ’n wenresep aan van uitstaande toneelstukke, musiek, boekgesprekke, beeldende kuns én hope feesvermaak. Die kunstefees word van Donderdag, 27 Junie, tot Sondag, 30 Junie, gehou in Mbombela (Nelspruit).

Feesterrein

Die tafel is gedek vir vermaak van vroeg tot laat op die feesterrein by Hoërskool Bergvlam. Daar is drie kuierverhoë waar gesoute en opkomende kunstenaars daglank sal optree, die Laevelder Boma-teater met gesprekke en kort teaterstukke, Spar Woelwaters, waar die kelingoed vermaak word, die Bosmôl met stalletjies en die Wingerd Kuiertuin.

Op die hoofverhoog

Die hoofverhoogkonserte wat elke aand om 18:00 op die feesterrein aangebied word, is altyd ’n feeshoogtepunt.

Op Donderdagaand 27 Junie begin die fees op ’n hoë noot met die opwindende Huisgenoot-Afskopkonsert met Bok van Blerk, Early B, Dr Victor, van Pletzen, Spoegwolf, Droomsindroom en Barto op die verhoog.

Spoegwolf. Foto: Verskaf
Droomsindroom. Foto: Verskaf

 

Op Vrydagaand tree Riaan Benade, Ricus Nel, Demi-lee Moore, Elvis Blue, Francois van Coke en Refentse op saam met aanbieders van Jacaranda FM.

Francois van Coke. Foto: Verskaf
Elvis Blue. Foto: Verskaf

 

Saterdagaand is daar die  saamgestelde kykNET-konsert met o.a. Juanita du Plessis, Karlien van Jaarveld, Elandré, Bernice West, Appel, Brendan Peyper, die Mzanzi Jeugkoor en nog ’n rits ander kunstenaars.

Die Mzanzi Jeugkoor. Foto: Verskaf
Karlien van Jaarsveld. Foto: Verskaf
Juanita du Plessis. Foto: Verskaf

Lig die gordyn

’n Stewige aanbod toneelstukke, van drama tot ligte komedie en skerpskerts, is op die program. Sandra Prinsloo is saam met David Ralph Viviers te sien in Op die hoek van Styx en River is Nora per abuis met die dood oorgeslaan. Rika Sennett en Adriaan Havenga deel die verhoog in Forte, terwyl Je-ani Swiegelaar in die eenvroustuk Die vrou op die dak beïndruk.

Sandra Prinsloo en David Viviers. Foto: Verskaf

Die ander produksies is 1 (Een) met Cindy Swanepoel en Zak Hendrikz, Ballade van ’n blikbrein met Luan Jacobs, Hospitale, kateters en familielede met Wynand van Vollenstee, Stephanie Baartman, Thiart Li en Marissa Claasen, A street taxi named Desiree met Pule Buys, Lucky Mqoboli en Sibusiso Mkhize, Ou Wyntoon, met Esther von Waltsleben, Johann Nel en Jan-Hendrik Opperman en die bekende Schalk Bezuidenhout in Mamma se groot seun.

Schalk Bezuidenhout. Foto: Verskaf
Luan Jacobs. Foto: Verskaf
Ou Wyntoon, met Esther von Waltsleben, Johann Nel en Jan-Hendrik Opperman. Foto: Verskaf

Musiekteater

Musiekteater bring Jana Cilliers, Mathys Roets, Anna Davel, Johny Klein, Stephanie Baartman, Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp as die ensemble in Mixtape van die liefde. Die twee veterane van die langpad, Koos Kombuis en Valiant Swart haal ’n bietjie nostalgie uit die spens. ’n Terugblik op die era van boy bands is die Boys R Back met Germandt Geldenhuys, Lee Scott, Reynardt Hugo, Ruan Josh and Willem Botha.

Jana Cilliers, Mathys Roets, Anna Davel, Johny Klein, Stephanie Baartman, Laurinda Hofmeyr en Leon Gropp as die ensemble in Mixtape van die liefde. Foto: Verskaf
Valiant Swart en Koos Kombuis. Foto: Verskaf

 

Die uitsonderlike Sudwala-grotte is die teater vir Nataniël se konsert, asook vir die Musikale Meander met onder andere Amira Willighagen (sopraan), Charl du Plessis (pianis), Stefan Louw (tenoor), Zanta Hofmeyr (violis), en Susan Mouton (tjellis). Beslis ’n hoogtepunt.

Nataniël. Foto: Verskaf

ATKV-Kuns-en-Boeke-oase

Die ATKV-Kuns-en Boeke-oase bied gratis boekgesprekke met Mathews Phosa, Etienne van Heerden, Amore Bekker, Leon van Nierop, Danie Marais en Riaan Grobler aan. Die baie gewilde ATKV-Boeke-crawl vind ook weer plaas op Kaapsche Hoop. Johan Myburgh, Hertzogpryswenner vir poësie, is vanjaar die feesdigter by Innibos. Sy nuutgeskepte gedig Feesmaal sal ook uitgebeeld word in musiek, dans en visuele kuns tydens ’n geleentheid by die ATKV-Kuns-en Boeke-oase.

Danie Marais. Foto: Nardus Engelbrecht
Leon van Nierop. Foto: Verskaf
Mathews Phosa. Foto: Verskaf

Feeskunstenaar

In die Kaapstadse kunstenaar Luan Nel se uitstalling by die ATKV-Kuns-en-Boeke-oase, Son of a Shopfitter, ondersoek hy die nalatenskap van sy pa en dié se ambag.

Daar is gewis vir elke smaak iets op hierdie program!

Die volledige program is op innibos.co.za. Alle kaartjies is te koop by TicketPro.

Read original story on www.citizen.co.za

 
Back to top button