Innibos Kunstefees huldig Hertzogpryswenner Johan Myburg

Vanjaar se feesdigter is gisteraand met musiek, dans en kuns ingehuldig tydens 'n funksie by die nasionale kunstefees in Mbombela.

Die aangewese feesdigter vir vanjaar se Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees in Mbombela, Johan Myburg, is gisteraand gehuldig met musiek, kuns en dans tydens ’n funksie by die ATKV Kuns- en Boeke-oase.

Myburg het in 2020 die Hertzogprys vir poësie ontvang vir sy vierde digbundel, Uittogboek. Sy jongste bundel, Narreskip, het in 2022 verskyn. Hy is ook bekend as kunskritikus en -kurator, eertydse kunsredakteur van Beeld en bydraer oor wêreldletterkunde vir die RSG-radioprogram Skrywers en Boeke. Hy het spesiaal vir Innibos ’n gedig rondom die tema ‘feesmaal’ geskryf.

Dié gedig, voorgelees deur Anna Davel, is uitgebeeld in dans deur Èmil Haarhoff met musiek deur ULTRACoustic Duo bestaande uit Wilken Calitz en Dirkie van Staden. Jaco van Schalkwyk, hoogaangeskrewe skilderkunstenaar waarvan werke opgeneem is in die kunsversamelings van onder meer die Suid-Afrikaanse Reserwebank, Universiteit van Pretoria en die Pretoria Kunsmusiem, het ’n skildery geskep wat verrassend met dieselfde tema gewerk het.

Annemarie van der Walt van Innibos in gesprek met Johan Myburg. Foto: Verskaf.

Komponis Franco Prinsloo het voorts ’n speelse komposisie getoonset wat uitgevoer is deur die bariton Chris Vale en Maryke Johnson op die klavier.

’n Hoogtepunt was die voorlesing deur Myburg van twee van sy gedigte wat onderskeidelik toon hoe sy werk deur onder meer musiek en visuele kuns beïnvloed word, Verslag (na ’n tekening deur Jeroen Bosch) uit die bundel Narreskip, en Scherzo (verwysend na die gelyknamige musiek deur Gustav Mahler) uit die bundel Uittogboek.

Sandra Jacobs, media- en bemarkingbestuurder van Innibos, het gesê dit is vir die kunstefees belangrik om alle vorme van kuns te omarm en te vier, en dat Myburg as feesdigter al hierdie vorme op ’n elegante en diepgaande wyse versinnebeeld.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button