Innibos stel die verhoog met kunstenaars wat ‘in’ is
Innibos se verhoog word vanjaar oorheers deur gewilde produksies, bekende akteurs en nuwe, innoverende teaterervarings.
Met die opwinding wat opbou na Toyota Innibos vanaf 2-5 Julie, word feesgangers genooi om hulself te verdiep in ’n wêreld van musiek, teater, boeke, kuns, stalletjies en unieke ervarings wat die Laeveld ‘inner-as in’ gaan laat voel.
Philna Scholtz, produksiebestuurder van Innibos, sê dié fees bied heelwat uit-die-boks-uit produksies wat geen feesganger moet mis nie.
“Enig in sy soort, is die Pampelmoesmampoer-produksie ’n moet-sien. Met plaaslike talent sowel as ander bekendes gaan Adriaan van As, Eugené Wait, Jana Fischer, Francois Jacobs, Matie van Graan, Tiaan Slabbert, Steffie le Roux, Luka Wait en ’n geheimsinnige gasverskyning, die gaste laat gons.”
Scholtz sê hierdie produksie is ’n unieke plekspesifieke teaterervaring waar drie gesinne se verweefde lewens en lank-verborge geheime stadig ontrafel. “In verskillende huise in The Rest Landgoed beleef feesgangers die storie uit uiteenlopende hoeke. Geen twee ervarings is dieselfde nie.”
Sy sê die gehoor word deel van elke toneel en is selfs gaste by die verlowingspartytjie in die slottoneel, waar die ontrafeling plaasvind.
Innibos is #trending
’n Ander nuwe leefstylproduksie waar Innibos #trending is, is die South African Institute of Architects Mpumalanga se Argitektoniese Toer met Orbic-, Cecilia- en GIITD-argitekte. “Dis ’n eksklusiewe, gekureerde toer wat feesgangers neem na van die Laeveld se mees inspirerende huise. Argitekte deel hul visie en wys die nuutste neigings in volhoubare en stylvolle binnenshuis-buiteleef ontwerpe,” verduidelik sy.
Innibos spog met ’n Nati-produksie naamlik Sterstof met Ashley de Lange, Ludwig Binge en Wessel Pretorius asook Sirkus L’amour en die Alewige Getoer met Wynand van Vollenstee, Thiart Li, Marissa Claasen en Zoricke Snyman wat by die fees debuteer.
Wat is ’n teaterprogram sonder Frank Opperman? Hy bring vir oulaas vir ons Reünie. Dié toneel is ‘n aangrypende en humoristiese blik op ’n skoolreünie waar ou klasmaats hulle verlede en ’n gedeelde tragedie uiteindelik konfronteer.
“Met fyn waarneming en nostalgie bring hierdie eenmanstuk die kompleksiteit van herinneringe en verhoudings tot lewe,” noem Scholtz.
Opperman is ook te sien in Crybaby saam met Nicole Holm, Wian Taljaard, René Cloete en Gantane Kusch. Hierdie stuk is ’n absurde tragikomedie oor ’n kind wat skielik die gewig van die wêreld se realiteite moet dra. Die stuk balanseer humor en hartseer terwyl dit vra wat dit regtig kos om groot te word in ’n gebroke wêreld.
Nóg vermaak
Volgens Scholtz is al hierdie vermaak slegs die begin.
“Feesgangers kan ook uitsien na produksies soos Sandra Prinsloo in Die Ander Dogter, Deon Meyer (verteller en teks) en Coenie de Villiers (klavier, sang en musiek) in die produksie KarooKeur, asook die Lefra-produksie, Het van Verlangekraal waarvan Leon van Nierop die teks van Johann Bekker tot verhoogstuk verwerk het. Amanda Strydom, Je-ani Swiegelaar en Coenraad Rall (klavier) is te sien in Tillie Matilda wat die lewe van twee straatvroue uitbeeld. Hierdie was ’n treffer by die onlangse KKNK,” verduidelik sy.
Die klassieke program sluit produksies in soos Voices of the Soul, Songs of Love en Koffie Kantata.
Teaterliefhebbers kan uitsien na die gesinstoneel, Jakkie NOU! Die Drie Varkies en die Gen Z Wolf met Jakkie Louw, Clarissa Jooste, Simone de Jager en Monique Barnard. Hierdie gaan feesgangers van oud en jonk bekoor.
Feesgangers kan ook uitsien na produksies soos Tronk met ’n D met Elzabé Zietsman wat hierin die rol van Daisy de Melker vertolk.
Volgens Scholtz is suinigheid en daardie “ek-sal-volgende-jaar-gaan”-verskonings al wat ‘uit’ moet wees by Innibos.
Wat moet ‘in’ wees? Jou geesdrif om alles te beleef en nie ’n enkele oomblik van hierdie kreatiewe fees te mis nie.
Innibos se produksie kaartjieverkope maak vanaf 30 April oop en is beskikbaar by innibos.co.za
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za