Kinderporno-verdagte staar reeds 44 aanklagte in die gesig
'n Landswye klopjag word tans deur die SAPD en Homeland Security Investigations uitgevoer om seksoortreders in hegtenis te neem.
’n Vyf-en-twintigjarige man, wat gister sy eerste hofverskyning in die Mosselbaai-landdroshof gemaak het nadat hy in ‘n gesamentlike klopjag om seksoortreders aan die pen te laat ry vasgetrek is, staar tot dusver 44 aanklagte in die gesig.
Meer aanklagte sal na verwagting op die klagstaat gevoeg word.
Die verdagte is Vrydag by sy huis op Mosselbaai in hegtenis geneem as deel van ‘n internasionale ondersoek in die Wes-Kaap na vervaardigers, verbruikers en verspreiders van kinderpornografie.
Die Mosselbaaier is reeds die vierde vermeende seksoortreder wat in dié provinsie in hegtenis geneem is in ’n gesamentlike operasie deur die polisie se reeks- en elektroniese misdaadeenheid en die Homeland Security Investigations van die Amerikaanse Ambassade.
Hy is ook die agtste verdagte wat sedert November as deel van dié landswye ondersoek vasgetrek is.
Die polisieondersoek duur voort en die saak is uitgestel tot 23 Februarie vir ‘n formele borgaansoek.
Die verdagte bly in aanhouding.
Read original story on www.mosselbayadvertiser.com