Klag teen konstabel wat glo aanranding van Oudtshoorn-kinders afneem

AfriForum beweer 'n konstabel het nie sy plig uitgedien om te help nie, maar eerder ‘n video geneem en dit op sosiale media versprei.

AfriForum het gister ’n klag by die Onafhanklike Polisieondersoekdirektoraat (Opod) ingedien teen ’n konstabel verbonde aan die Oudtshoorn-polisiestasie.

Die klag volg in reaksie op die polisielid se beweerde pligsversuim tydens ’n openbare oproerigheid wat laas week Vrydag in Oudtshoorn losgebars het, waar kinders met ‘n sambok geslaan is, het die Oudtshoorn Courant berig.

Jacques Broodryk, die hoofwoordvoerder vir gemeenskapsveiligheid by AfriForum, sê ’n groep tieners, wat hy as ‘geweldadig’ beskryf, het na bewering slaags geraak met lede van die publiek.

“Die tieners was na bewering met messe gewapen. Dit blyk dat die plaaslike polisie bewus was van die gebeure wat besig was om te ontvou, maar ondanks die erns daarvan stadig was om te reageer.”

Broodryk sê AfriForum se Opod-klag het egter spesifiek betrekking op die gedrag van ’n konstabel wat na bewering ten tyde van die voorval verby die toneel gery het sonder om in te gryp.

“Die einste konstabel het na bewering nie gestop om die situasie te assesseer nie. Hy het ook nie homself as polisiebeampte geïdentifiseer of polisiebystand versoek nie, maar eerder ’n video van die voorval geneem en dit op sosiale media gedeel, ’n stap wat die spanning op die dorp selfs verder laat eskaleer het.”

Volgens hom versoek AfriForum Opod om ondersoek in te stel na die polisielid se gedrag om te bepaal of dit neerkom op pligsversuim.

“Polisielede het ’n wetlike en etiese verantwoordelikheid om in so ’n situasie na te kom. Wanneer ’n onstabiele situasie ontvou, verwag die publiek besliste optrede en nie blote passiewe waarneming nie,” verduidelik Broodryk.

“Indien bevind word dat die bewerings waar is, kom die gedrag neer op ’n ernstige skending van openbare vertroue in die polisiediens. Dit kan nie toegelaat word dat diegene wat belas is met die handhawing van wet en orde, hul plig blatant versuim nie.”

AfriForum beklemtoon dat hierdie klag nie ’n aanval op die polisie as ’n instelling is nie, maar eerder ’n oproep tot verantwoording. Die organisasie hou vol dat professionele polisiëring wat reageer wanneer die nood dit vereis, noodsaaklik is.

“Dit sal onnodige eskalasie van oproerigheid voorkom en vertroue inboesem in wetstoepassing.”

’n Navraag is aan Opod gestuur, maar geen kommentaar is ten tye van publikasie ontvang nie.

Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.oudtshoorncourant.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Inhoud verskaf

Die inhoud van die berig is deur 'n eksterne bron verskaf.
Back to top button