3 vas ná ‘aanranding’ van Oudtshoorn-kinders op video vasgevang is
’n Derde verdagte is in hegtenis geneem ná Gerda Tait en Johann Scholtz se eerste hofverskyning in verband met kinders se aanranding in Van der Rietstraat.
’n Derde persoon is gister in hegtenis geneem in verband met ‘n voorval in Oudtshoorn waarin daar na bewering na kinders met ‘n sambok geslaan is. ‘n Video van die voorval het Vrydag soos ‘n veldbrand op sosiale media versprei.
Gister se arrestasie volg ná twee beskuldigdes die afgelope naweek in verband met die aanrandingsvoorval in Van der Rietstraat gearresteer is. Hulle het gister in die hof verskyn, berig die Oudtshoorn Courant.
Gerda Tait en Johann Scholtz het gister vir die eerste keer in die Oudtshoorn hof verskyn op drie aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer.
Die hofgalery was stampvol toe die beskuldigdes voor die hof gebring is.
Hul inhegtenisneming volg nadat ’n video Vrydag op Facebook geplaas is waarin gesien kan word hoe ’n vrou met ’n sambok na kinders slaan. Twee mans is in die video langs haar sigbaar, waarvan een ’n verfbalgeweer in sy hand hou.
Die saak is tot Maandag vir ’n formele borgtogaansoek uitgestel.
Die derde man wat gister in hegtenis geneem is, staar klagtes van aanranding met die opset om ernstig te beseer, menseroof en poging tot moord in die gesig. Dit is nog nie bevestig wanneer hy in die hof sal verskyn nie.
Hoewel daar sprake was dat die klagtes teen Tait en Scholtz oor die naweek na poging tot moord verander is, is daar bevestig dat hulle tans slegs op aanklagte van aanranding met die opset om ernstig te beseer teregstaan.
Verskeie belangstellendes, insluitend drie lede van die parlement wat deel is van die polisie se portefeuljekomitee, het die hofverrigtinge bygewoon.
Hofgangers het ná die uitstel hul misnoeë oor die voorval uitgespreek. Die ouers van die betrokke kinders was ook in die hof teenwoordig.
Video’s:
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.oudtshoorncourant.com