Kombuiskas-fratsongeluk: Brakpan-meisie oorlede ná jarelange gesondheidstryd

Net meer as sewe jaar ná 'n kombuiskas op Karlien Roets geval en haar lewe onherroeplik verander het, is sy vanoggend in die ouderdom van 10 oorlede.

Karlien Roets, die jong meisie van Brakpan wat in baie mense se harte gekruip het nadat haar lewe onherroeplik verander is toe ’n kombuiskas op haar geval het, is vroeg vanoggend (23 Junie) oorlede.

In ’n kort gesprek met Karlien se ma, Karin, het sy aan die Brakpan Herald gesê dat Karlien die afgelope tyd met ’n ernstige longinfeksie gesukkel het.

“Sy is gisteraand in ‘n hospitaal opgeneem en is vanoggend omstreeks 04:00 oorlede,” het ’n hartseer Karin gesê.

Die dapper klein vegtertjie het verlede jaar in Oktober haar 10de verjaarsdag gevier.

Fratsongeluk

Karlien is in Augustus 2018 beseer toe ’n kombuiskas in die gesin se huis in Dalview op haar geval het. Sy was toe slegs drie jaar oud.

Ná ’n lang tyd in die hospitaal is sy ontslaan, waarna haar ouers die besluit geneem het om alles in die stryd te werp om haar tuisversorging so intensief, maar ook so gemaklik moontlik te maak.

Karlien is sedertdien 24 uur per dag deur haar familie en versorgers versorg.

Karin en haar man, Frikkie, het geen steen onaangeroer gelaat om vir Karlien die beste moontlike mediese sorg en tuisversorging te verseker nie.


Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.

Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.

Read original story on www.citizen.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Thelma Koorts

Thelma Koorts is an editor with a passion for delivering high-quality editorial services that meet the evolving needs of readers and clients. She currently serves as the editor for the Brakpan Herald, Springs Advertiser, African Reporter, and Heidelberg Nigel Heraut. With over 30 years of experience in journalism, her goal is to keep readers informed and updated through informative news from the community to the community.
Back to top button