Krokodil slaan toe op hengelaars in Mpumalanga

Fanie Fourie is deur 'n krokodil by 'n privaat dam aangeval en die vinnige optrede deur sy vriend het waarskynlik sy lewe gered.

‘n Rustige visvanguitstappie deur twee boesemvriende het Sondagmiddag in ‘n nagmerrie ontaard toe ‘n krokodil een van hulle in Barberton, Mpumalanga, aangeval het.

Fanie Fourie (45) gaan waarskynlik sy regterarm verloor nadat ‘n vier meter lange krokodil hom bekruip het en aan die arm beetgekry het.

Was dit nie vir die vinnige en dapper optrede van sy vriend, Jerry Visagie, nie, kon Fourie vandag waarskynlik dood gewees het.

Visagie se dogter, Leandré, sê Fourie en haar pa het die middag by ‘n privaat dam op ‘n plaas in die Snymansbult-omgewing gaan hengel. “Hulle het al vele kere in die verlede hier gaan hengel. Alhoewel hulle geweet het daar was ‘n krokodilletjie in die dam, het die reptiel hulle nog nooit voorheen lastig geval nie,” vertel sy.

Met hulle aankoms by die dam het die twee gesien die krokodil lê op die oorkantste wal.

Dit was kort voor 14:00 toe Fourie ‘n lyn die water gegooi het. Hy het pas ‘n dobber aan die lyn gesit en was besig om sy hande in die vlak water te was toe ‘n krokodil toeslaan.

“My pa het op daardie stadium met sy rug na die dam gestaan toe hy ‘n geplons in die water hoor. Toe hy omdraai, het hy gesien hoe Fanie onder die water verdwyn. Die volgende oomblik het hy halflyf uit die water gekom en geskree ‘n krokodil het hom gevang.”

Visagie het een van die skerp visvangpenne gegryp en die water binnegestorm. “Hy het die krokodil op die kop gesteek, maar die reptiel het bly vasklou.”

Visagie kon Fourie aan die hemp beetkry en het hom met die krokodil agterna die vlakwater ingesleep. “My pa het die krokodil weer op die gesig geslaan. Die krokodil het Fanie gelos, maar weer twee keer na hom gegryp. Gelukkig kon die twee op daardie stadium uit die vlakwater tot op die wal kom.”

Waar die groot krokodil so skielik vandaan gekom het, is nog duister, sê Leandré.

Visagie het die gapende wond aan Fourie se regterarm met ‘n hemp verbind en met hom na die Barberton Hospitaal gejaag. Nadat hy daar gestabiliseer is, is hy na Rob Ferreira Hospitaal oorgeplaas.

Hy het ook bytmerke aan sy regterbobeen en maag, en van die vingerpunte aan sy linkerhand is tydens die voorval afgebyt.

Fourie is vanmiddag teater toe waar ‘n noodoperasie gedoen was om die omvang van sy beserings vas te stel.

Chris Nobela, die Mpumalanga Departement van Gesondheid se woordvoerder, het bevestig dat Fourie tans in ‘n ernstige maar stabiele toestand in die hospitaal is.

Read original story on lowvelder.co.za

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Network News in Google News and Top Stories.

Ruan de Ridder

A digital support specialist at Caxton Local Media, known for his contributions to the digital landscape. He has covered major stories, including the Moti kidnappings, and edits and curates news of national importance from over 50 Caxton Local News sites.
Back to top button