Kyk: Jan Bloukaas se laaste maande vasgevang in rou dokumentêr
Volgens vriende was Jean du Plessis ’n unieke mens wat dit wat ander in 80 jaar ervaar, in 25 jaar wou leef.
Die laaste maande van die sanger Jan Bloukaas se lewe, sy stryd teen breinkanker en sy vasberadenheid om sy laaste album uit te reik, word in ’n nuwe dokumentêr op YouTube vasgevang.
In Vir Oulaas, wat deur Deon Dee, ’n vervaardiger en regisseur van Centurion, gemaak is, word Jean du Plessis, soos Bloukaas se regte naam was, se agteruitgang op ’n rou en eerlike manier uitgebeeld.
Die dokumentêr is Woensdag (7 Oktober) laatmiddag vrygestel en het teen druktyd reeds meer as 17 000 unieke kyke gehad. Dit sou ook Du Plessis se 27ste verjaardag gewees het.
Toe hy in 2022 met breinkanker gediagnoseer is, was hy ’n jong man met ’n bos bruin hare, ’n goedgeboude lyf en ’n volronde gesig. Namate die kanker gevorder het, het sy liggaam al hoe meer agteruitgegaan. Sy gesig het aan die regterkant verlam geraak en hy het uiteindelik ’n rolstoel nodig gehad.
Op 26 Januarie 2024, ’n paar maande voor sy dood, het hy voor die kamera gehuil: “Ek kan nie meer hoor nie. Ek kan nie altyd sterk staan nie, maar al het ek pyn, dink ek steeds God is amazing.”
Soos die tyd aangestap het, het hy al hoe moeiliker begin praat. Die swelling in sy brein het ook sy reaksies beïnvloed, wat dikwels deurmekaar was.
Tog het Du Plessis vasgehou aan sy plan om sy laaste album, God Kan, voor sy dood uit te reik. Hy is op 3 Desember 2024 oorlede, skaars twee jaar nadat hy met kanker gediagnoseer is.
“Hy wou iets blywends nalaat en wou ook die dokumentêr klaarmaak,” vertel die musikant en liedjieskrywer Peach van Pletzen, wat Du Plessis in 2017 ontmoet het.
“Ek dink Jean het geweet dat hy nie lank op die aarde gaan wees nie en daarom wou hy 80 jaar in 25 jaar inpak.”

‘Hy wou 80 jaar in 25 jaar inpak’
Van Pletzen onthou hoe hy Du Plessis, toe dié pas matriek voltooi het, by die Rosebank-Gautreinstasie ontmoet het.
“Ek was besig om vir hom ’n boodskap te tik toe ek hom sien weghardloop. Hy het my baie jare later vertel dat hy diarree gehad het en onmiddellik by ’n toilet moes uitkom. Dit is een van baie kleurryke herinneringe wat ek van hom het.”
Du Plessis het in 2017 bekend geword toe hy die land se verhoë met sy treffer Kaas Elke Dag geruk het. Die liedjie se woorde, “Ek hou van kaas, bra” het ‘n bekende frase, veral onder jong Afrikaanssprekendes, geword. Hoewel hy volgens Van Pletzen nie sy mond aan bloukaas gesit het nie, het hy tog die naam Jan Bloukaas as verhoognaam gekies.
“Jean was een van die uniekste mense wat ek in my lewe ontmoet het.”
Van Pletzen verskyn ook in die dokumentêr, maar het tot dusver net gedeeltes daarvan gesien.
“Dit is té intens. Ek sal later, as ek rustiger is, alleen daarna kyk.”
Du Plessis was nog altyd ’n diep gelowige mens. Volgens Van Pletzen was dit egter asof hy gedurende sy laaste maande op aarde losgeraak het van sy fisiese liggaam en ’n meer spirituele wêreld betree het.
Geloof wat ander se lewens verander het
“Niemand wat vir Jean geken het, is onaangeraak deur sy diep geloof nie. Hy het my uitkyk op die lewe ook verander.”
Dee, wat ook een van Du Plessis se goeie vriende was, sê dit het hom bykans twee jaar geneem om die dokumentêr te voltooi.
“Ek het die dokumentêr aan verskeie kanale voorgelê, maar nie een van hulle was bereid om dit te koop nie. Ons het toe besluit om dit gratis op YouTube vry te stel. Dit was vir almal wat aan die projek gewerk het ’n liefdesprojek en ons het nie geld daaruit gemaak nie.”
Die geld wat Du Plessis uit sy album verdien het, is aan Kansa geskenk. Die bedrag is nie bekend gemaak nie.
Dee sê Du Plessis het ook sy lewe op verskeie maniere aangeraak.
“Ek was ook maar op-en-af met my geloof, maar Jean het my op ’n nuwe geloofspad geplaas. Hy was rustig en tevrede en het geweet dat daar lewe ná die dood is. Ek het ook van sy beskouings in my eie lewe begin toepas.”
Dit is nie bekend of dié dokumentêr die eerste in sy soort in Afrikaans is nie. Dee sê egter hy weet nie of hy ooit weer so ’n projek sal aanpak nie.
“Dit het emosioneel baie van my geverg. Dit is vir niemand lekker om die einde van iemand se lewe te dokumenteer nie.”
Kankersterftes in Suid-Afrika
Volgens ramings van die Internasionale Agentskap vir Kankernavorsing (IARC) het kanker wêreldwyd ’n groot gesondheidslas tot gevolg. Die organisasie se GLOBOCAN 2022-verslag oor kankersterftes in Suid-Afrika het die aantal sterftes weens kanker in die land op 64 547 geraam.
Spesifieke jaarlikse syfers oor sterftes weens breinkanker is beperk. ’n Studie oor breinkankersterftes onder Suid-Afrikaanse mans en vroue het egter 4 110 sterftes tussen 2007 en 2016 aangeteken, oftewel gemiddeld sowat 411 sterftes per jaar. Dié syfer is ’n historiese gemiddelde en weerspieël nie noodwendig die huidige sterftesyfer nie.
Kyk na die dokumentêr hier:
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za