Kyk: Koerier help Pretoria-leerder om verrassende verskyning te maak by matriekafskeid
’n Koeriermaatskappy het ingestem om ’n ongewone aflewering by ’n matriekafskeidsfunksie te doen.

Toe ’n koerierspakkie op 30 September by ’n matriekafskeidsfunksie by Colosseum Reale in Roodeplaat afgelaai is, kon niemand eintlik raai hoekom een van die juffrouens van die Hoërskool Garsfontein nader tree om daarvoor te teken nie.
Dié onderwyser, Gertruida Louw, was een van ’n handjievol mense wat geweet het binne in dié reuse-koerierspakkie was een van die leerders van die skool.
Sy maats en die res personeel van die skool se verbasing was groot toe Ronaldo Joubert sy verskyning maak deur ’n deur van die reuse-kartondoos oop te stoot en met ’n glimlag gebukkend uit te stap.
Joubert sê spottenderwys: “Dit was binne-die-boks denke.”
Hy vertel sy ma, Lanie Claassen, het dié blink idee gekry toe hulle besig was om sy planne vir die matriekafskeid te bespreek.

“Sy het na ’n verbygaande koeriersvoertuig gekyk en net daar het ons besluit om ’n projek aan te pak om my met so ’n voertuig af te laai. Ek wou iets minder tradisioneel doen en toe het dit gewerk!” vertel Joubert.
Sy ma het die reëlings met die maatsappy, The Courier Guy, getref.

“Hulle was baie behulpsaam, veral ook die areabestuurder van Gauteng, Johan Murray,” sê Joubert.
Joubert is 1.8m lank. Die kartondoos moes dus eers groter gemaak en versterk word.
Die maatskappy se personeel het as proefkonyne gedien totdat hulle seker was die kartondoos kon sy gewig neem.
Hy het vroeg in die jaar al besluit om sonder ’n metgesel te gaan.
Joubert het gaan inloer om voor die groot aand ’n toetslopie of twee te maak.
“Met die eerste inklimslag in die kartondoos het dit ’n werklikheid geword,” vertel hy.
Teen skemertyd het Joubert en die afleweringsbussie aangekom en die deure is oopgemaak en die kartondoos in die saal waar die funksie gehou is, afgelaai.
“My vriende het die idee waardeer. Hulle het die pret daarvan ingesien en vir my was die dag baie spesiaal hierdeur gemaak,” vertel Joubert.
Hy voel dankbaar vir sy ma se bydrae tot die belangrike aand in sy lewe.
“Sy het geen moeite ontsien nie,” sê hy.
Joubert beoog om volgende jaar tandheelkunde te gaan studeer en het vir eers sy sport opgegee om op akademie te fokus.
“Ek is bietjie angstig oor die eindeksamen, maar ek voel voorbereid,” sê hy.
Read original story on www.citizen.co.za