Kyk: Noordwes-boer Donovan Marx stap singend uit hospitaal
Verpleegpersoneel en geliefdes het in Potchefstroom saam ’n loflied gesing toe die oorlewende van ’n wrede plaasaanval ná weke se behandeling huis toe kon gaan.
’n Video wat ’n hoendervleis-oomblik vasvang waartydens die Ventersdorp-boer Donovan Marx ná ’n uitmergelende stryd om herstel uit die Mediclinic Potchefstroom ontslaan is, het wye reaksie en dankbaarheid onder die gemeenskap ontlok.
In die video, wat deur Ena Botha op Facebook gedeel is, stap Marx uit die hospitaal – met sy kop steeds verbind, ’n hospitaalbandjie om sy gewrig en ’n bottel water in die hand – ingehaak by verpleegpersoneel en geliefdes. Terwyl hy voor ’n koffiewinkel in die hospitaalgang staan, sing ’n groep personeellede, familie en ondersteuners saam die Afrikaanse loflied Met die krag van God (met die lirieke: “Ek is sterk met die krag van God… Die brul van die leeu is kragtig, maar my God is almagtig”).
Kitaarspelers begelei die groep terwyl van die omstanders hul hande in aanbidding opsteek. Marx, wat duidelik emosioneel is maar breed glimlag, sing self uit volle bors saam.
Kyk die video:
’n Pad van geloof en herstel
Marx se ontslag volg nadat hy op 28 Oktober wreed op sy plaas tussen Potchefstroom en Ventersdorp aangeval en gemartel is. Tydens die voorval is sy plaaswerker vasgebind, terwyl Marx ernstig aangerand is en albei sy ore afgesny is.
Ná groot chirurgiese ingrypings het Marx verlede Donderdag (5 November) vir die eerste keer toestemming gegee om ’n foto van sy vordering vanuit die hospitaal te deel. Sy vrou, Louise, het destyds gesê dit is vir die familie ’n wonderwerk dat hy lewe.
“Ons weet daar lê nog ’n lang pad voor, maar ons glo dat dieselfde God wat hom tot hier gedra het, hom ook verder sal dra. Dankie aan elkeen wat saam met ons bid, hoop en glo,” het Louise gesê.
Dinsdag (10 November) het die egpaar ’n verdere boodskap van geloof en dankbaarheid vanuit Mediclinic Potchefstroom gedeel. Hulle het hul opregte dank teenoor die mediese spanne van die intensiewesorgeenheid, ER24 se nooddienste, die gemeenskappe van Ventersdorp en Potchefstroom, asook die SAPD uitgespreek.
“Ons glo dat die Here se hand deur hierdie hele pad oor ons was. Julle het ons geestelik en fisies gedra. Julle het ons staande gehou. Ons is positief oor die toekoms en sien met geloof en verwagting uit daarna om te beleef hoe God se Naam deur alles wat gebeur het, verheerlik gaan word,” lui hul boodskap, wat ook na Psalm 150 en Efesiërs 6:12–15 verwys het.
Die egpaar en hul regsverteenwoordigers het terselfdertyd ’n beroep op die publiek gedoen om die integriteit van die ondersoek te beskerm deur nie vertroulike inligting of ongeverifieerde besonderhede op sosiale media te versprei nie.
Hofsaak duur voort
Intussen duur die regsproses rondom die aanval voort. Vier beskuldigdes – Phimdile Nomngcayi (29), Godfrey Mathipa (56), Thomas Motlhonglong (27) en Jan Maishone (53) – het op 3 November vir die eerste keer in die Ventersdorpse Landdroshof verskyn.
Hulle staan tereg op ses aanklagte, naamlik poging tot moord met verswarende omstandighede, roof met verswarende omstandighede, aanranding, die besit van ongelisensieerde vuurwapens, die onwettige besit van ammunisie en die rig van ’n vuurwapen. ’n Vyfde verdagte sal na verwagting as ’n artikel 204-staatsgetuie optree. Die saak is tot môre (13 November) uitgestel vir die beskuldigdes se formele borgaansoek. Die Noordwes-polisiekommissaris, lt.genl. Arthur Peter Adams, het vroeër bevestig dat die staat en die ondersoekspan onder leiding van kapt. Bonita Dry borg ten sterkste borgtog sal teenstaan.
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za