Kyk: Politieke onstabiliteit dreig ná ANC se groot steunverlies – ontleder
Politieke ontleder prof. André Duvenhage waarsku dat koalisie-onsekerheid munisipaliteite kan ontwrig en nuwe leiers jare kan neem om metro's reg te ruk.
‘n Onstuimige politieke omgewing kan ná die plaaslike verkiesingsuitslae op Suid-Afrika wag, met die ANC se steunverlies wat groot skuiwe in munisipaliteite kan meebring. Prof. André Duvenhage, verbonde aan die Noordwes Universiteit, sê hoewel die meeste groot verkiesingsverrassings reeds deur projeksies voorspel is, was daar tog enkele kleiner opskuddings wat nie in die voorspellings na vore gekom het nie.
Volgens hom dui die ANC se steunverlies van 15 persentasiepunte (teen 11:30) op die diepte van die politieke krisis waarin die party hom bevind. Dit kan tot ingrypende politieke verandering lei, met moontlik tot 600 ANC-raadslede wat hul posisies kan verloor. Partye soos ActionSA het volgens Duvenhage voordeel getrek uit die ANC se afname in steun, veral in sommige metropolitaanse gebiede.
Die Vryheidsfront Plus het ook beter as verwag presteer, terwyl Duvenhage meen die MK-party se steun kan nog met enkele persentasiepunte toeneem. Hy verwag dat dié party se rol ná die verkiesing ook tot politieke onstabiliteit kan bydra.
Groot metro’s staan voor moeilike pad
Duvenhage beskryf die situasie in groot stede soos Johannesburg, Pretoria en Ekurhuleni nie bloot as ’n krisis nie, maar ’n ramp.
Volgens hom is Helen Zille selfs uit sommige oorde gewaarsku om Johannesburg liefs te vermy omdat ‘die stad nie verander kan word nie’.
“Ek weet egter sy sal anders daaraan dink en daarna kyk,” het Duvenhage gesê.
Hy waarsku dat kiesers nie onmiddellike verandering moet verwag waar nuwe politieke leierskap die leisels oorneem nie.
Hoewel munisipaliteite se omstandighede verskil, sal dit volgens hom besonder moeilik wees om binne ‘n enkele vyfjaartermyn daadwerklike verandering in groot, sukkelende metro’s te bewerkstellig. Hy meen die eerste vyf jaar sal hoofsaaklik gebruik moet word om ‘n stewige grondslag te lê, waarna ‘n verdere vyf jaar nodig sal wees om daarop voort te bou.
“Kiesers moet nie verwag dat die skip oornag gedraai gaan word nie.”
Kyk hier na die video:
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za