Kyk: Skrootwerfeienaar oorleef skietery in Walkerville

'n Man is na verneem word in ‘n kritiek, maar stabiele toestand, nadat hy by 'n kruising minstens vier keer raakgeskiet is.

Die eienaar van ‘n skrootwerfonderneming in De Deur, Gauteng, het Donderdagoggend ‘n tweede aanslag op sy lewe oorleef.

Dave Smit, die eienaar van CSC Scrap Metals, is na verneem word in ‘n kritiek, maar stabiele toestand nadat hy minstens vier keer by die kruising van Randvaalweg (R550) en die R82 (Ou Johannesburg), in Walkerville, raakgeskiet is.

Die voorval het omstreeks 06:18 gebeur en is op kringtelevisie-kameras vasgevang.

Vaalweekblad verneem Smit was in sy wit Toyota Land Cruiser op pad werk toe toe die insittendes van ‘n silwer Mercedes-Benz vanuit die voertuig op hom losgebrand het.

Smit kon ‘n U-draai maak en in ‘n ander rigting vlug.

Die voorkant van die voertuig. Foto: Facebook/Intelligence Bureau SA.

Op die video kan mens sien hoe die aanvallers hom skynbaar agternasit.

Smit het weggekom en is later by die noodeenheid van ‘n hospitaal behandel.

Die agterkant van Dave Smit se voertuig. Foto: Facebook/Intelligence Bureau SA.

“Dit was swaarkaliber rondtes. Hy is gelukkig hy het die voorval oorleef,” het ‘n bron aan Vaalweekblad vertel.

Blykbaar is dit die tweede aanslag op Smit se lewe.

Vaalweekblad het ook navrae aan Kaptein Teboho Lephoto, ‘n polisiewoordvoerder, gestuur. Die koerant wag nog vir terugvoer.

Read original story on www.citizen.co.za

 
Back to top button