Local newsNewsNews

Skrootwerfeienaar oorleef tweede aanslag op sy lewe

Die skietery het Donderdagoggend helder oor dag in Walkerville langs Ou Johannesburgweg (R82) plaasgevind.

WALKERVILLE. – Die eienaar van ‘n skrootwerfonderneming in De Deur het Donderdag (2 Mei 2024) ‘n tweede aanslag op sy lewe oorleef.

Dave Smit, eienaar van CSC Scrap Metals in De Deur, is na verneem word in ‘n kritiek, maar stabiele toestand nadat hy Donderdagoggend (2 Mei) minstens vier keer by die kruising van Randvaalweg (R550) en die R82 (Ou Johannesburg) raakgeskiet is.

Die voorval het omstreeks 06:18 in die oggend gebeur en is op geslotekringkameras vasgevang.

Vaalweekblad verneem Smit was in sy wit Toyota Land Cruiser op pad werk toe toe die insittendes van ‘n silwer Mercedes-Benz vanuit die voertuig op hom losgebrand het.

Smit kon ‘n u-draai maak en in ‘n ander rigting  vlug.

Op die video kan mens sien hoe die aanvallers hom skynbaar agternasit.

Smit het weggekom en is later by die noodeenheid van ‘n hospitaal behandel.

“Dit was swaarkaliber rondtes. Hy is gelukkig hy het die voorval oorleef,” het ‘n bron aan Vaalweekblad vertel.

Blykbaar is dit die tweede aanslag op Smit se lewe.

Vaalweekblad het ook navrae aan kapt. Teboho Lephoto, ‘n polisiewoordvoerder, gestuur. Ons wag nog vir terugvoer.

*Hierdie is ‘n ontwikkelende storie. Vaalweekblad kan die storie later opdateer indien ons meer inligting ontvang.

Die voorkant van die voertuig. Foto: Facebook/Intelligence Bureau SA
Die agterkant van Dave Smit se voertuig. Foto: Facebook/Intelligence Bureau SA

 

 
Back to top button