Kyk: Studente-betoging ruk hand uit in Potchefstroom
Chaos het Saterdagmiddag op die Bult in Potchefstroom ontstaan toe 'n betoging, glo oor geslagsgebaseerde geweld, handuitgeruk het.
‘n Groep van ongeveer 250 studente het Saterdag onrus op die Bult in Potchefstroom veroorsaak toe ‘n betoging oor geslagsgebaseerde geweld handuitgeruk het.
Louis Jacobs, ‘n woordvoerder van die Noordwes-Universiteit (NWU), het aan Potchefstroom Herald gesê dat ‘n groep studente laat Saterdagmiddag buite die Potchefstroom-kampus van die universiteit bymekaargekom het.
“Die studente het gekla oor ‘n saak van geslagsgebaseerde geweld, wat na bewering aan die begin van September plaasgevind het, en wat volgens hulle nie die nodige aandag van die universiteit en SAPD ontvang het nie. Hulle is in kennis gestel dat die ondersoek van die universiteit se kant afgehandel is en binnekort gefinaliseer sal word.”
Die studente het toe na die woning van die hoof en visekanselier van die NWU in Calderbanklaan gemarsjeer en geëis om hom te sien.
“Dit was ‘n onwettige optog en die universiteit het met ‘n ondersoek na die voorval begin. Studente wat die optog georganiseer en daaraan deelgeneem het, sal die gevolge moet dra, indien hulle skuldig bevind word.”
Omstreeks 21:00 het die groep begin verdaag en het dit rustig geraak.
‘n Memorandum met eise van die studente is gistermiddag aan die SAPD oorhandig.
“Die situasie word noukeurig gemonitor en alle moontlike maatreëls is ingestel om te verseker dat daar geen ontwrigtings op die kampus op Maandag sal wees nie,” gaan Jacobs voort.
“Die universiteit veroordeel weereens enige vorm van geslagsgebaseerde geweld ten sterkste, en enige individu wat sulke dade pleeg en daaraan skuldig bevind word, sal ernstige gevolge in die gesig staar, insluitend uitsetting. Ons bly standvastig in ons nultoleransie-houding teenoor geslagsgebaseerde geweld en doen ‘n beroep op al ons belanghebbendes om ons te help om hierdie pandemie uit te roei.”
Kyk die video’s:
Breaking news at your fingertips… Follow Caxton Network News on Facebook and join our WhatsApp channel.
Nuus wat saakmaak. Volg Caxton Netwerk-nuus op Facebook en sluit aan by ons WhatsApp-kanaal.
Read original story on www.citizen.co.za