KYK: Studente-protes ruk hand uit op die Bult
'n Protes oor geslagsgebaseerde geweld het glo Saterdagmiddag in Cachet Park op die Bult, handuitgeruk.
‘n Groep van ongeveer 250 studente het Saterdag onrus op die Bult veroorsaak toe ‘n protest oor geslagsgebaseerde geweld glo handuitgeruk het.
Louis Jacobs, woordvoerder van die Noordwes-Universiteit (NWU), sê gedurende die laatmiddag van 15 November, het ‘n groep studente buite die Potchefstroomkampus van die Noordwes-Universiteit bymekaargekom.
“Die studente het gekla oor ‘n saak van geslagsgebaseerde geweld, wat na bewering aan die begin van September plaasgevind het, en wat volgens hulle nie die nodige aandag van die universiteit en SAPD ontvang het nie. Hulle is in kennis gestel dat die ondersoek van die universiteit se kant afgehandel is en binnekort gefinaliseer sal word.”
Die studente het toe na die woning van die hoof en visekanselier van die NWU in Calderbanklaan gemarsjeer en geëis om hom te sien.
“Dit was ‘n onwettige optog, en die universiteit het met ‘n ondersoek na die voorval begin. Studente wat die optog georganiseer en daaraan deelgeneem het, sal die gevolge moet dra, indien hulle skuldig bevind word.”
Omstreeks 21:00 het die groep begin verdaag en het dit rustig geraak.
Gedurende die middag van 16 November het die studente ‘n memorandum aan die SAPD oorhandig.
“Die situasie word noukeurig gemonitor, en alle moontlike maatreëls is ingestel om te verseker dat daar geen ontwrigtings op die kampus op Maandag sal wees nie,” gaan Jacobs voort.
“Die universiteit veroordeel weereens enige vorm van geslagsgebaseerde geweld ten sterkste, en enige individu wat sulke dade pleeg en daaraan skuldig bevind word, sal ernstige gevolge in die gesig staar, insluitend uitsetting. Ons bly standvastig in ons nultoleransie-houding teenoor geslagsgebaseerde geweld en doen ‘n beroep op al ons belanghebbendes om ons te help om hierdie pandemie uit te roei.”
Kyk na die videos hier:



